Gaan Stuart Baxter, afrigter van Bafana Bafana, Vrydag sy bedanking indien?
Dis die vraag op die lippe van Suid-Afrikaanse sokkergeesdriftiges nadat dié Engelsman – via sy agent – ’n nuuskonferensie belê het om sy toekomsplanne uit te stippel.

Stuart Baxter sal Vrydag lig werp op sy toekomsplanne. Foto: Gallo Images
Hy sal die media in Houghton te woord staan en nie soos gewoonlik by die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging se Safa-huis nie.
Safa het Baxter (65) het ná Suid-Afrika se nederlaag in die kwarteindronde van die Afrikabeker-toernooi in Egipte daarop gewys dat hy al talle aanbiedinge in Asië en in Suid-Afrika van die hand gewys het om by Bafana aan te bly.
Baxter, wat tot 2022 gekontrakteer is, het wel gesê hy sal met sy vakansie in Swede gaan besin oor sy toekoms. Hy het gesê as hy tot die slotsom kom dat hy die span nie meer vorentoe kan vat nie, sal hy wegstap.
Hy het ook daarop gewys dat vorige afrigters vervang is en dat die probleme dieselfde gebly het.
Suid-Afrika se sege oor Egipte in die Afrikabeker-toernooi en ook die sege oor Nigerië in Uyo aan die begin van Baxter se tweede termyn, is van die wedstryde wat uitstaan sedert die Engelsman weer met die leisels toevertrou is.
Suid-Afrika het agt van sy 21 wedstryde onder hom gewen, waarvan vier gelykop was.
Russell Paul, uitvoerende hoof van Safa, het vroeër gesê Baxter het uitsonderlik goed gedoen om Bafana in die kwarteindronde te kry en dat hulle sy kontrak sal eerbiedig.
As Baxter bedank, sal sy opvolger se grootste taak wees om toe te sien dat Suid-Afrika vir die Wêreldbeker-toernooi in 2022 in Katar kwalifiseer.
Die spanne met die laagste ranglysplekke in Afrika begin reeds in September, met 28 lande wat dit in die eerste kwalifiserende wedstryde gaan uitspook. Die 14 wenners, ná tuis- en wegwedstryde, sal hulle aansluit by die voorste 26 Afrika-lande op die ranglys, wat Suid-Afrika in die 13de plek insluit.
Die 40 oorblywende spanne sal dan in 10 groepe ingedeel word vir die tweede fase van kwalifisering. Die 10 wenners van elke groep sal dan in tuis- en wegwedstryde verder uitspook om die finale vyf kwalifiseerders te bepaal. Bykomende bronne: Daily Sun, Reuters, goal.com, Sport24