Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Gewese United-doelskieter terug as breier

Die voormalige Manchester United-doelevraat Ole Gunnar Solskjaer gaan terugkeer na Old Trafford – dié keer as dié klub se waarnemende afrigter

Ole Gunnar Solskjaer is as Manchester United se waarnemende afrigter aangewys. Foto: Getty Images

United het sy hoofafrigter, José Mourinho, Dinsdag die trekpas gegee nadat die Red Devils hul swakste begin tot ’n seisoen in 28 jaar gemaak het.

United het op Twitter aangekondig dat Solskjaer en Mike Phelan, ’n voormalige United-hulpafrigter, na Old Trafford gaan terugkeer om die leisels tot aan die einde van die seisoen te neem. Michael Carrick en Kieran McKenna, albei hulpafrigters by die klub, sal Solskjaer-hulle bystaan.

Solskjaer rig tans die Noorweegse span Molde af, maar dié land se spanne geniet nou ’n wintervakansie en is eers in Maart weer in aksie.

Die 45-jarige Solskjaer het tussen 1996 en 2007 vir United gespeel en 126 doele ingeryg, insluitende die beroemde wendoel in beseringstyd van die Kampioeneliga-eindstryd teen Bayern München in 1999.

United is tans sesde op die Premierliga se puntelys, maar is reeds ’n allemintige 19 punte agter die voorloper, Liverpool.

United se volgende teenstander in die Premierliga is Cardiff City. Solskjaer was ironies genoeg in 2014 vir nege maande lank dié span se afrigter. In daardie tyd is Cardiff egter gerelegeer uit die Premierliga en het hy ook nie waffers gevaar in sy eerste klomp wedstryde in die Eerste Liga nie.

Solskjaer se tydelike aanstelling het groot opgewondenheid in Noorweë tot gevolg gehad, met tot dié land se eerste minister, Erna Solberg, wat hom geluk gewens het.

’n Voormalige uitvoerende hoof van United, Edward Freeman, glo egter die klub kon beter as Solskjaer gevaar het, berig die BBC.

Volgens hom beskik Solskjaer oor geen flair nie en is dít juis tans een van die klub se probleme. Hy sou veel eerder die charismatiese Eric Cantona in dié tussentydse rol wou gesien het.

* Tottenham Hotspur se afrigter, Mauricio Pochettino, is intussen Britse beroepswedders se witwarm-gunsteling om as Mourinho se permanente opvolger aangewys te word.

Mauricio Pochettino is beroepswedders se gunsteling om José Mourinho se permanente opvolger te word. Foto: Getty Images

Onder dié Argentyn se afrigting het Spurs in agtereenvolgende seisoene in die topdrie van die Premierliga geëindig, hoewel dié klub in Noord-Londen nog nie ’n trofee verower het nie.

Wat hom egter aanloklik maak, is dat sy spanne aanvallende sokker speel en dat hy ’n reputasie het dat hy jong spelers in sterre help ontwikkel, deugde wat laas by ’n United-afrigter gesien is toe sir Alex Ferguson nog die span gebrei het. Ferguson het in 2013 die tuig neergelê.

Wedsyfers van 2/1 word aangebied dat Pochettino die pos sal kry, gevolg deur die gewese Real Madrid-breier Zinedine Zidane (4/1), die Monaco-breier, Leonardo Jardim (9/1) en Carrick (10/1).

Pochettino het in reaksie op al dié bespiegelings gesê hy is toegewyd om die gewenste resultate in sy huidige pos te behaal.

Dít sal egter nie vrese by Spurs-ondersteuners besweer dat hy na Old Trafford gelok kan word nie.

Hy sal egter ’n duur kopie wees, want hy het vanjaar ’n nuwe vyfjaarkontrak met Spurs onderteken, wat glo in die koers van £8,5 miljoen (sowat R153 miljoen) werd is. 

– Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.