Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Gort gaar in Europa oor rebelleliga

Europese sokker is in ’n ongekende krisis gedompel nadat 12 van die vasteland se rykste klubs aangekondig het dat hulle ’n rebellereeks, die “Superliga”, gaan begin as mededinger vir die bestaande Kampioeneliga.

Marcus Rashford van Manchester United Sondag op Old Trafford tydens ’n Premierliga-wedstryd teen Burnley. United is een van 12 klubs wat ’n Europese rebelleliga gaan begin. Foto: Getty Images

Dié plan is wyd veroordeel deur oud-spelers en ondersteuners oor die wêreld heen, met sommiges wat dit bestempel as ’n “siellose geldfoefie” wat steun vir die spel gaan laat taan.

Die nuus van die rebellereeks is selfs deur prominente politici soos die Britse eerste minister, Boris Johnson, betreur.

Manchester United, Liverpool, Barcelona, Real Madrid en Juventus is onder die 12 rebelleklubs, maar Uefa, beheerliggaam vir beroepsokker in Europa, het gedreig dat hy hulle sal skors uit plaaslike en internasionale kompetisies sou hulle voortgaan met die beoogde liga.

Danny Murphy, ’n voormalige middelveldspeler van Liverpool, het gesê die plan klink “sielloos.

“Ons het reeds streng teenstand (teen die plan) gesien van ligas en nasionale federasies wat daardeur geraak sal word en ek dink afrigters en spelers gaan ook nog hul rug styf maak."

Murphy glo spelers sal eenvoudig te veel waag deur deel te neem aan die Superliga.

“As jy deel word van die rebellereeks, sal jy ook nie meer jou land kan verteenwoordig nie,” het hy gesê.

“Dis tog waaroor jy as ’n kind droom. So, ek kan net nie sien dat baie spelers daartoe gaan instem nie. Dít gee my hoop dat die hele storie vinnig uitmekaar sal val.”

Roy Keane, ’n voormalige kaptein van Manchester United, sê “geld en geldgierigheid” is die boustene van die Superliga.

Kom ons hoop dié ding word in sy spore gestuit.
Roy Keane

Micah Richards, ’n voormalige Manchester City-verdediger, het op sy beurt gesê ondersteuners is nie in ag geneem toe planne vir die rebelleliga opgetrek is nie.

“Wat word van al die herinneringe en tradisie wat ondersteuners deur die jare opgebou het? Ter wille van geld het hulle eenvoudig daarvan vergeet. Maar dis hoe die spel nou geword het. Ek dink dis ’n absolute skande.”

Jamie Carragher, ’n voormalige Liverpool-verdediger, het gesê die gedagte dat sy voormalige klub by die rebelle-kompetisie betrokke is, maak hom siek.

“Sokkerbase maak altyd die fout om te glo dat hulle die invloedrykste krag in die sport is,” het hy in ’n rubriek vir The Telegraph geskryf.

“Hulle kom egter gou agter dat hulle swak en magteloos is sonder enige ondersteuners.”

Georganiseerde ondersteunersgroepe van Engelse Premierliga-klubs, insluitend dié van Chelsea en Tottenham, het ook kragte saamgesnoer om die Superliga te veroordeel en sê dit is “die toppunt van verraad” teen hulle.

Ander ondersteunersgroepe het ’n pleidooi aan sokkerliefhebbers gelewer om produkte te boikot wat hul klubs aan ondersteuners verkoop.

“Al manier hoe die eienaars van dié klubs sal luister, is as hulle dit aan hul sakke voel,” het Riccardo Ball, voorsitter van Manchester United se ondersteunersklub in Nieu-Seeland, gesê.

Die 12 “stigtersklubs” van die Superliga is: Manchester United, Manchester City, Liverpool, Chelsea, Tottenham Hotspur, Arsenal, Real Madrid, Barcelona, Atlético Madrid, Juventus, AC Milan en Inter Milan. – Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Real Madrid  |  Juventus  |  Liverpool  |  Superliga  |  Uefa  |  Kampioeneliga  |  Manchester United  |  Barcelona  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.