Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Guardiola sien swarigheid ná slae
Tottenham Hotspur se Steven Bergwijn (regs) en Nicolas Otamendi van Manchester City spook om besit in Sondag se Premierliga-wedstryd. Bergwijn het een van Spurs se twee doele aangeteken. Foto: Reuters

Pep Guardiola, afrigter van Manchester City se sokkerspan, sê die verowering van die Europese Kampioeneliga is ononderhandelbaar, want as dít nie gebeur nie, sal hy as ’n mislukking beskou word.

Guardiola het reeds vyf trofeë by Manchester City gewen sedert hy hom in 2016 van Barcelona af by dié klub aangesluit het. Dit het twee Engelse Premierliga-titels in 2017/’18 en 2018/’19 ingesluit.

Maar ’n Kampioeneligatitel bly Man City ontwyk en boonop kon sy span onder hom nog nie verder as die kwarteindronde van dié kompetisie vorder nie.

“Verlede jaar was uitsonderlik (nadat Man City sy Premierligatitel met welslae verdedig het), maar die ondersteuners hou vol ek het nog nie ’n Kampioeneliga gewen nie.

“Dit is die maatstaf waaraan ek gemeet sal word. As ek dit nie hier wen nie, sal ek ’n mislukking wees.”

Manchester City se kanse om sy Premierliga-titel met welslae te verdedig, het reeds soos mis voor die son verdwyn nadat hy Sondag met 2-0 deur Tottenham Hotspur geklop is.

Spurs se doele is deur Steven Bergwijn en Son Heung-Min aangeteken, terwyl Man City se Oleksandr Zinchenko met ’n rooikaart afgestuur is.

Liverpool (73 ligapunte) het Saterdag met sy oorwinning van 4-0 oor Southampton ’n byna onaanvegbare voorsprong van 22 punte in die Premierliga bo Man City opgebou.

Steven Bergwijn vier Tottenham Hotspur se eerste doel teen Manchester City terwyl Nicolas Otamendi verslae toekyk.Foto: Reuters

Liverpool se voorsprong is die grootste nog deur enige span in die liga en die Reds het ook Man City se rekord van 20 opeenvolgende oorwinnings tuis geëwenaar.

“Ons is ver van perfek af,” het Liverpool se afrigter, Jürgen Klopp, die ander spanne gewaarsku nadat Alex Oxlade-Chamberlain, Jordan Henderson en Mohamed Salah (twee doele) Liverpool se vier doele in die tweede helfte aangeteken het.

Liverpool is nou onoorwonne in 42 agtereenvolgende ligawedstryde en het 100 uit ’n moontlike 102 ligapunte ingesamel.

Van Liverpool se ander grootste teenstanders, Leicester City (derde met 49 punte) en Chelsea (41 punte) het Saterdagaand met 2-2 gelykop gespeel, terwyl Manchester United en Wolves (albei op 35 punte) ook heeltemal uit die wedloop is ná hul gelykopuitslag van 0-0.

Dan het Arsenal en Burnley se wedstryd Sondag ook met 0-0 gelykop geëindig. – Sportredaksie en skysports.com

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.