Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Iranse ‘blue girl’ dood ná sy haarself aan brand steek
Iraniërs het vroeër vandeesmaand met ’n aanlyn veldtog begin om die wêreld se sportbeheerliggame te oorreed om die land by alle byeenkomste te verbied. Foto: Getty Images

’n Iranse sokkerondersteuner, wat haarself verlede week in Teheran aan die brand gesteek het toe haar verhoor uitgestel is, is dood.

Die vrou moes in die hof verskyn omdat sy vermom as ’n man ’n sokkerstadion wou ingaan. Vroue word sedert die revolusie in 1979 in Iran toegang tot sportstadions geweier.

Die BBC berig Sahar Chodajari se storie is aandagtig deur Iraniërs wêreldwyd gevolg. Haar ondersteuners het gebruik gemaak van die hutsmerk “blue girl” – ’n verwysing na haar gunstelingspan, Esteqlal.

Chodajari is in Maart in hegtenis geneem. Sy is drie dae aangehou voordat sy op borgtog vrygelaat is. Daarna moes sy ses maande wag dat haar saak in die hof voorkom.

Maar toe sy verlede week vir die verrigtinge opdaag, is sy in kennis gestel dat die saak uitgestel is omdat die regter na ’n familiekrisis moes omsien.

Sy het later na die hof teruggekeer om haar selfoon te gaan haal. Dit was glo toe dat sy toevallig ’n gesprek gehoor het waarin gesê is dat as sy skuldig bevind word, kan sy gevangenisstraf van ses maande tot twee jaar opgelê word.

Chodajari het haarself daarna voor die hofgebou aan die brand gesteek en is later in die hospitaal dood.

Iranse vroue is verlede jaar tydelik toegelaat in die Azadi-stadion – die grootste sportkompleks in die Midde-Ooste – om na Wêreldbekerwedstryde op ’n grootskerm te kyk.

Hoewel die verbod op vroue in sportstadions nie in die land se wetboek staan nie, sê Human Rights Watch dit word “genadeloos toegepas”.

Die sokkerbeheerliggaam Fifa het Iran tot 31 Augustus gegee om vroue in stadions toe te laat, maar die land het nog nie daaraan gehoor gegee nie.

Verskeie vroue het hulself in April 2018 as mans vermom en met sukses in die Azadi-stadion gekyk hoe hul span, Persepolis, sy grootste teenstander, Sepidrood, in ’n wedstryd pak.
'n Vrou wat haarself as 'n man vermom het, kyk sokker.

Verskeie vroue het hulself in April 2018 as mans vermom en met sukses in die Azadi-stadion gekyk hoe hul span, Persepolis, sy grootste teenstander, Sepidrood, in ’n wedstryd pak.

Iraniërs het vroeër vandeesmaand met ’n aanlyn veldtog begin vir die wêreld se sportbeheerliggame om die land by alle byeenkomste te verbied. Hulle wil hê dat wat deur baie as staatsinmenging by sport beskou word, gestaak word.

– Sportredaksie

Meer oor:  Teheran  |  Sahar Chodajari  |  Iranse Sokkerondersteuners  |  Sokker  |  Blue Girl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.