Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Kan Bafana Super Eagles se vlerke knip?

Watter Bafana Bafana-sokkerspan gaan Woensdagaand in Kaïro se internasionale stadion opdaag vir die wedstryd in die kwarteindronde van die Afrikabeker-toernooi?

Gaan dit, soos Bafana se ondersteuners hoop, die een wees wat een van die grootste skokke van vanjaar se toernooi gelewer het deur Egipte Saterdag in die einste stadion te klop?

Of gaan dit, soos die Super Eagles se spelers en ondersteuners sal hoop, die een wees wat doelloos in die groepfase rondgeploeter het en baie gelukkig was om die eerste ronde te oorleef?

Bafana Bafana se Lebo Mothiba ding met Egipte se Mahmoud Alaa mee in Saterdagaand se Afrikabeker-wedstryd in Kaïro. Mothiba was een van die sterre in Suid-Afrika se sege van 1-0. Foto: AP

Bafana moes sekerlik moed geput het uit die skoksege van 1-0 oor Egipte, wat gewys het dat positiewe, aanvallende sokker jou verder bring as die versigtige, verdedigende spel van die groepfase.

Thembinkosi Lorch was teen Egipte die eerste keer in vanjaar se toernooi in aksie en het ook sy eerste doel aangeteken. Maar hy was nie al ster nie.

Lebo Mothiba en Percy Tau was ewe skerp op die aanval, terwyl die verdedigers ook hul kant teen die Egiptenare gebring het.

Hopelik sal Bafana Saterdagaand se selfvertroue wat tot verskeie doelpogings gelei het weer Woensdagaand ten toon stel. Hulle het streng gesproke eintlik niks om te verloor nie, omdat niemand Stuart Baxter (afrigter) se span juis kans gegee het om tot die kwarteindronde te vorder nie.

Bafana het egter glad nie ’n goeie vertoningslys teen die Nigeriërs nie – hulle spog met slegs twee seges en vyf gelykop-uitslae in 13 wedstryde.

Een van die seges was in ’n vriendskaplike wedstryd, maar die ander was in ’n kwalifiserende wedstryd vir vanjaar se toernooi.

Benewens dié spoggerige wegsege van 2-0 wat Bafana behaal het, het die kwalifiserende wedstryd in Suid-Afrika gelykop geëindig.

Die Nigeriërs kan nooit onderskat word nie, maar te oordeel na dié vertonings lyk hulle nie aldag meer so “super” soos wat hul bynaam te kenne wil gee nie. Hulle het in die groepfase boonop die knie voor Madagaskar gebuig.

Benewens ’n plek in die halfeindronde het Bafana bykomende aansporing vir Woensdag se wedstryd. Stories doen (al weer) die ronde dat Suid-Afrika sy enigste Afrikabeker in 1996 gewen het bloot omdat Nigerië nie in daardie jaar se toernooi in aksie was nie.

Wen Bafana dus Woensdag, sal hulle nie net ’n belangrike punt bewys nie; hulle sal terselfdertyd ’n hele paar monde snoer.

* Sokker se videotegnologie om skeidsregters met beslissings te help, die sogenaamde VAR-stelsel, sal in die kwarteindronde die eerste keer in dié toernooi gebruik word.

  • Senegal en Benin is Woensdagaand om 18:00 in die eerste kwarteindstryd slaags, waarna Suid-Afrika en Nigerië se wedstryd om 21:00 volg.
  • Suid-Afrika se wedstryd is op SABC 3 en SS 4. Senegal en Benin se kragmeting is ook op SS 4.
Meer oor:  Afrikabeker  |  Nigerië  |  Bafana Bafana
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.