Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Kleiner salarisse krap aan Rooney

Wayne Rooney het die Britse regering en Premierliga (PL) gekritiseer dat hulle sokkerspelers in ’n “verloor-verloor-situasie” plaas deur te vra dat hul salarisse tydens die Covid-19-pandemie verminder word.

Wayne Rooney, wat deesdae vir Derby diens doen. Foto: Getty Images

Die 34-jarige voormalige Engelse kaptein, wat nou vir Derby County speel, het in ’n rubriek vir Engeland se Sunday Times geskryf die spelers is maklike teikens.

Die Beroepsokkervereniging (PFA) het reeds gesê ’n vermindering van 30% in salarisse sal Brittanje se Nasionale Gesondheidsversekering (NHS) ’n knou gee omdat daar gevolglik minder belasting gehef gaan word.

Rooney sê hy sal ’n finansiële bydrae lewer – hetsy deur middel van die vermindering van sy salaris of met ’n direkte donasie aan die NHS – maar meen die openbare druk op die spelers bemoeilik die situasie.

Die PL het sy strategie van ’n vermindering en uitstel van salarisse Sondag met verteenwoordigers van spelers en afrigters bespreek.

Waarom word sokkerspelers skielik uitgesonder? Dis skandelik hoe dinge die afgelope paar dae ontwikkel het.
Wayne Rooney

Daar was vroeër reeds gesprekke nadat politieke figure, insluitend die land se gesondheidshoof, Matt Hancock, ’n pleidooi vir aksie gelewer het.

“As die regering my nader om verpleegsters te help om toerusting aan te koop, sal ek trots wees om dit te doen. Mits ek weet waarvoor die geld gebruik word,” skryf Rooney.

“Ek is in ’n posisie waar ek iets kan opgee. Nie elke speler is in daardie posisie nie. En tog word die ganse professie met ’n vermindering van 30% in salarisse in die gesig gestaar. Waarom word sokkerspelers skielik uitgesonder? Dis skandelik hoe dinge die afgelope paar dae ontwikkel het.”

Die PL is agter ander Europese ligas in sy reaksie op die Covid-19-pandemie en is deur ’n Britse politikus gekritiseer dat hy in ’n “morele vakuum” werk.

Rooney bevraagteken egter die wysheid van die Premierliga, wat agter die skerms met spelers begin praat het oor sy eie planne vir verminderings.

“Na my mening is dit ’n posisie waar jy nét kan verloor," sê hy.

Niemand praat oor bankiers, uitvoerende hoofde en multimiljoenêrs nie.
Gary Lineker

Rooney voeg by dat die PL se bydrae van £20 miljoen aan die NHS ’n druppel in die emmer is vergeleke met wat klubs uit salarisverminderings sal bespaar.

Hy bevraagteken ook waarom sterre uit ander sportkodes nie oor dieselfde kam geskeer word nie.

Gary Lineker, ’n voormalige doelskieter vir Engeland, voel dieselfde as Rooney. Hy het aan die BBC gesê spelers wil graag help, maar hulle is maklike teikens.

“Waarom nie deur die bank ’n beroep op ryk mense doen nie, en eerder sokkerspelers uitsonder? Niemand praat oor bankiers, uitvoerende hoofde en multimiljoenêrs nie.”

Die PFA sê sy lede wil graag help, maar ’n vermindering in salarisse sal Brittanje £200 miljoen in verlore belasting kos.

Gareth Southgate, die afrigter van Engeland se nasionale span, het glo ’n vermindering van 30% in sy salaris aanvaar.

’n Handvol Engelse klubs het ook hul administratiewe personeel se salarisse verminder.

Gary Neville, ’n voormalige spanmaat van Rooney by Engeland en Manchester United, het die PL skerp gekritiseer.

“Die PL hanteer die Covid-19-krisis uiters swak,” het hy op Twitter gesê.

Hy sê hulle het gesloer met die afkondiging van ’n inperking en om verlof aan werkers te gee.

Meer oor:  Wayne Rooney  |  Covid -19  |  Salaris  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.