Sondagaand se groot Engelse Premierliga-sokkerwedstryd tussen Liverpool en Manchester United het tot “honderde” klagtes van ondersteuners gelei wat aan kleurblindheid ly aangesien hulle gesukkel het om tussen die twee spanne se uitrustings te onderskei.

Die uitrustings waarin Manchester United (Victor Lindelof, links) en Liverpool (Divock Origi) Sondag gespeel het, het tot ongelukkigheid gelei onder mense wat aan kleurblindheid ly. Foto: Getty Images
So sê Kathryn Albany-Ward, uitvoerende hoof van die Britse organisasie Colour Blind Awareness.
United speel dié seisoen in ’n wit-en-swart wegtrui, maar het vir die besoek aan Anfield in ’n diep donkergroen uitrusting (wat amper swart voorkom) gespeel. Liverpool was in sy tradisionele rooi klere.
Mense wat aan kleurblindheid ly, sukkel veral om tussen rooi, groen en blou te onderskei.
“Dit gebeur die heeltyd,” het Albany-Ward aan ESPN gesê. “Ons het dit onlangs ook met Southampton en Sheffield United se wedstryd gehad.”
Sy sê Sondag het hulle egter die meeste klagtes tot nog toe vir botsende uitrustings gehad.
“Ons het honderde klagtes gehad. Dis ’n probleem wat baie algemeen is en een uit elke 12 mense raak.”
Die Amerikaanse voetballiga (NFL) het in 2015 beloof om soortgelyke probleme in sy wedstryde te voorkom en Albany-Ware sê die Engelse sokkerowerhede moet nou dieselfde doen in wedstryde wat uitgesaai word. – Reuters