Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Liverpool se Klopp: Dis net die begin

Dis maar net die begin!

So het ’n verheugde Jurgen Klopp Saterdag in Madrid gewaarsku nadat sy Liverpool-span vir die sesde keer in hul geskiedenis as wenners van die Europese Kampioeneliga gekroon is.

Die Reds het Tottenham Hotspur in ’n merendeels saai eindstryd met 2-0 verslaan, nadat Mo Salah reeds in die tweede minuut van die strafkolletjie af ’n doel aangeteken het en die plaasvervanger Divock Origi Spurs die doodskoot toegedien het in die 87ste minuut.

Die Liverpool-afrigter Jurgen Klopp word deur sy spelers die lug ingegooi nadat hulle Saterdag die eindstryd van die Europese Kampioeneliga gewen het. Foto: Getty Images

Vir Klopp, Liverpool se Duitse afrigter van die afgelope drie en ’n half jaar, was dit veral soet omdat hy voor Saterdag in ses Europese eindstryde aan die verloorkant was.

Die mees onlangse van dié teleurstellings was twaalf maande gelede, toe Real Madrid sy span met 3-1 verslaan het.

Op ’n vraag hoe dit voel om uiteindelik die Kampioenebeker te wen, het Klopp volgens UEFA.com in ’n televisie-onderhoud gesê: “Veel, veel beter as om ’n paar duim daarvan verby te stap.” Dít was benewens verlede jaar ook sy lot in 2013, toe hy Borussia Dortmund se afrigter was en hulle daardie jaar se Europese naaswenners was.

“Op hierdie oomblik voel ek meer verligting. Ek is baie, baie bly vir al die spelers, die ondersteuners, ons eienaars en my familie, maar die grootste emosie is verligting.

“Dit was ’n intense seisoen met die mooiste einde wat ek my ooit kon verbeel. Ek was (in die verlede) regtig bevoorreg dat ek spanne gehad het wat sterk genoeg was om by die Kampioeneliga-eindstryd uit te kom, maar as jy dit verloor is daar altyd mense daarbuite wat sê dit sal beter wees om glad nie eens vir die kompetisie te kwalifiseer nie.

Hierdie is net die begin. (Die spelers) se honger (vir grootsheid) is ongelooflik.
Jurgen Klopp

“Ons was dapper genoeg om weer te probeer (ná verlede jaar se teleurstelling) en het die laaste paar weke al hierdie moeilike vrae gehad om te antwoord, maar ons was koel en kalm genoeg om die taak vanaand te verrig.

“Hierdie is net die begin. (Die spelers) se honger (vir grootsheid) is ongelooflik. Nou kan ons die volgende tree neem en ’n baie groot merk laat.”

Jordan Henderson, die span se kaptein, het gesê Klopp verdien al die lof vir wat hulle vanjaar bereik het. Benewens Kampioeneliga-glorie was hulle vanjaar tweede in die Engelse Premierliga, met ’n puntetotaal wat in die oorgrootte meerderheid van jare die titel sou verseker.

“Wat (Klopp) gedoen het sedert hy ingekom het is ongelooflik. Daar is soveel samehorigheid in die kleedkamer, hy het iets spesiaal geskep.

“Hierdie is die beste oomblik van my lewe. Hiervan droom ek sedert ek ’n kind was. Nou moet ons net aangaan op hierdie pad,” het Henderson gesê.

Hulle is die doelwagter Alisson Becker, wat in die eindstryd ’n rits uitstekende Spurs-pogings uit die net gehou het, ster-verdediger Virgil van Dijk, agterspelers Trent Alexander-Arnold en Andy Robertson, middelveldspeler Gini Wijnaldum en doelvraat Sadio Mané.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.