Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
‘Niemand gedwing om te oefen’
Mohamed Salah van Liverpool Woensdag terug op die oefenveld. Foto: Getty Images

Geen speler van Liverpool sal gedwing word om te oefen as hy nie veilig voel nie, sê Jürgen Klopp, afrigter van dié Engelse Premierliga-klub.

Die voorloper in die Premierliga het Woensdag sy eerste oefensessie in meer as nege weke gehad.

Die liga is op 13 Maart weens die Covid-19-pandemie opgeskort, maar klubs mag nou weer in klein groepe oefen.

Klopp het ná sy eerste sessie met tien spelers aan Sky Sports gesê hy verwag al sy spelers sal opdaag vir oefensessies, maar hulle is nie onder druk nie.

“Dit is hul keuse. Ek het voor die eerste sessie aan hulle gesê hulle is daar uit vrye wil. Gewoonlik moet jy hier aanmeld as jy ’n kontrak het. Maar as jy nou nie veilig voel nie, hoef jy nie hier te wees nie,” sê Klopp.

Hy sê daar sal geen boete of straf wees nie.

“Ons sal elkeen se keuse respekteer.

“Die ouens is piekfyn. Ons sal niemand se gesondheid in gevaar stel om te doen wat ons wil doen nie.

“Ja, ons is lief vir sokker en ja, dit is ons werk, maar dit is nie belangriker as hul lewens of dié van ander nie.”

Harry Maguire, kaptein van Manchester United. Foto: Getty Images

Die spelers en afrigters word nie toegelaat om by die veld te verklee of te stort nie.

Groepies van vyf het op verskillende velde geoefen, maar Klopp sê “dit lyk soos sokker”.

Die Premierliga hoop om in Junie wedstryde te hervat.

Liverpool is 25 punte voor Manchester City, wat in die tweede plek op die puntelys is.

Liverpool kort nog twee oorwinnings om sy eerste Engelse ligatitel sedert 1990 te wen.

Harry Maguire, kaptein van Manchester United, het intussen gesê hy het “veilig gevoel” toe sy span in Carrington geoefen het.

“Dit was ’n vreemde paar maande. Die klub het die nodige protokol gevolg en dit lyk na ’n veilige omgewing.

“Alles is goed georganiseerd. Almal is getoets voordat hulle die klubterrein ingekom het en almal se uitslag was negatief,” sê Maguire.

Jürgen Klopp, afrigter van Liverpool, dra toerusting aan. Foto: Getty Images

Ook by United was daar klein groepe wat ’n halfuur elk geoefen het, elk met ’n ander afrigter.

“Daar was minder mense op die oefenveld. Dit is die eerste stap. Laat ons dit eers sonder probleme oorbrug. Dit was ’n goeie begin vir my,” sê Maguire.

* Die hervatting van sokkeraksie in Engeland het wel ietwat van ’n terugslag gehad toe daar Dinsdag bevestig is dat ses mense van drie verskillende klubs positief vir Covid-19 getoets het. – Reuters

Meer oor:  Liverpool  |  Jurgen Klopp  |  Engelse Premierliga  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.