Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Klopp se legende groei; Ole verwelk

Jare lank was Liverpool ’n groot grap vir ondersteuners van al hul teenstanders. Ná die glorieryke sewentiger- en tagtigerjare, toe die Merseysiders dwarsoor Europa gevrees is, was die Premierliga-era ’n knaende pyn.

Maar sedert die aanstelling van Jürgen Klopp verloop dinge klop(p)disselboom op Anfield.

Jürgen Klopp vier sy span se verstommende Kampioeneliga-oorwinning oor Barcelona op Anfield. Foto: Getty Images

Die Premierliga-titel het Liverpool verlede jaar net-net ontwyk ná ’n ongehoorde rits vertonings van Manchester City. Selfs die Kampioeneliga was ’n skrale troos nadat die Engelse kroon hulle vir die 29ste seisoen agtereenvolgens ontwyk het.

Klopp se sogenaamde heavy metal-sokker raak egter al hoe doeltreffender en tans is daar min mense wat stry dat daar ’n beter span in Europa is.

Liverpool is bo aan die Premierliga-puntelys – ’n stywe agt punte voor die tweede geplaaste City en dit ná net agt wedstryde.

Dit is die eerste keer sedert 1985 dat ’n span op die hoogste vlak van Engelse sokker só ver voor sy teenstander is ná so min wedstryde. Maar ’Pool-ondersteuners drink met rede nog nie sjampanje nie – daai einste span in 1985 was Manchester United, wat uiteindelik vierde was.

Hoewel ’n besering aan Aymeric Laporte sy verdediging oorhoops getrek het, behoort hulle ná ’n bietjie Januarie-inkopies die pap weer dik aan te maak.

Pep Guardiola se City-span sal enduit baklei. Hoewel ’n besering aan Aymeric Laporte sy verdediging oorhoops getrek het, behoort hulle ná ’n bietjie Januarie-inkopies die pap weer dik aan te maak.

Wat sou United nie gee om dié seisoen vierde te eindig nie!

Die Rooi Duiwels is deesdae onherkenbaar van die span wat onder sir Alex Ferguson nuwe standaarde gestel het. Die aanstelling van die oudspeler en ’99-held Ole Gunnar Solskjaer om die leisels te hou, het ondersteuners aanvanklik ekstaties gehad, maar sedert hy vroeër vanjaar permanent aangestel is, was daar net rampe en ellende.

marcus rashford
Marcus Rashford

Marcus Rashford, buite posisie, is onherkenbaar van die belowende jongeling van ander jare, terwyl Paul Pogba steeds nie regverdig het waarom hy so hoog aangeslaan word nie. Selfs die doelwagter, David de Gea, is ’n skaduwee van wat hy was.

United se truiborg, Chevrolet, wil glo nie sy kontrak in 2021 hernieu nie. Vir ’n klub wat onder die eienaarskap van die Glazer-familie prestasie vir wins opgeoffer het, sal ’n hou in die beursie seerder maak as enigiets anders.

As Solskjaer aan die einde van die seisoen in sy huidige pos is, sal dit ’n yslike verrassing wees. Maar waar sy einde lankal onafwendbaar lyk, was dit ’n verrassing hoe vinnig Tottenham se kaartehuis ineen getuimel het.

Mauricio Pochettino het Noord-Londen se tradisionele sukkelaars in ernstige aanspraakmakers omgetower; soveel so dat die klub verlede seisoen vir die eerste maal in die Kampioeneliga-eindstryd gespeel het.

Hul futloosheid dié aand was ’n voorbode van die seisoen. Met ’n stuk of vyf staatmakers wat wil padgee en te min inkopies in die somer, is Pochettino se dae langs White Hart Lane waarskynlik ook getel.

Maar dat hy vroeër ’n nuwe werk sal hê as Solskjaer, ly ook min twyfel.

Meer oor:  Liverpool  |  Jürgen Klopp  |  Premierliga-Titel  |  Premierliga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.