Asof die afsterwe van die sokkerlegende Diego Maradona nie genoeg was vir die Argentynse klubspan wat hy afgerig het nie, het die klub Vrydag ’n verdere terugslag beleef.

Diego Maradona in Maart vanjaar. Foto: Getty Images
Dié slag was dit toe talle van die personeellede wat Maradona bygestaan het terwyl hy vir Gimnasia y Esgrima gebrei het, gelyktydig bedank het.
“Dit is ’n besluit wat ons begryp en dit wys die menslikheid van die groep wat so goed saam met Diego Maradona gewerk het,” het die klub luidens ’n verklaring gesê.
Sebastián Méndez, assistentafrigter, het die span afgerig sedert Maradona in die eerste week van November hospitaal toe is vir ’n breinoperasie.
Hy sou na verwagting in dié pos aangebly het in die plek van die superster, wat Woensdag aan ’n hartaanval oorlede is.
Gimnasia is geskeduleer om Saterdag teen Vélez Sarsfield hul plek op die veld in te neem, maar die spelers het gepleit dat die wedstryd uitgestel word.
Die onbesonge span is tans in die derde plek in hul groep van vier in Argentinië se plaaslike kompetisie, met vyf punte in vier wedstryde. – Reuters