Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Engeland se volgende breier?
Robbie Fowler se lynsnuif-grappie het nie goed afgegaan nie. Foto: Getty Images

Sal Robbie Fowler, die man wat op sy dag op sy hande en knieë op ’n sokkerveld rondgekruip en gemaak het asof hy ’n vet lyn kokaïen snuif, eendag Engeland se afrigter kan word?

Harry Redknapp, ’n gesoute en gerespekteerde afrigter wat diep spore in die Engelse Premierliga getrap het, dink die omstrede Fowler kan ’n “baie goeie” afrigter word.

Fowler (45) het tussen 1996 en 2002 in 26 toetse vir Engeland gespeel, waarin hy sewe doele aangeteken het.

Robbie Fowler is deesdae die Australiese span Brisbane Roar se afrigter. Foto: Getty Images

Hy is deesdae die afrigter van die Australiese span die Brisbane Roar en Redknapp reken Fowler doen nou goeie ondervinding as ’n breier op.

“Hy kan meer ervare na Engeland terugkeer en op ’n baie hoë vlak afrig,” sê Redknapp.

Fowler self is baie ambisieus en sê hy wil op “die hoogste vlak moontlik” afrig.

Nou kan jy omtrent dink hoe gaan diegene wat Fowler met ’n passie haat tekere as hulle só iets hoor.

In sy speeldae is Fowler veral deur Everton se ondersteuners gehaat en hulle het hom so sleggesê dis ’n wonderwerk dat sy oordromme nie gebars het nie.

Fowler het vir ’n hele klomp spanne gespeel, maar dis veral as Liverpool-man wat hy onthou word. Dis Liverpool se ondersteuners wat hom as ’n soort god beskou het.

Volgens Fowler was dit een van sy spanmaats, Razor Ruddock, wat sy vermoëns op die sokkerveld as goddelik beskryf het. Ruddock was so verstom oor die wonderbaarlike doele wat Fowler skynbaar moeiteloos aangeteken het, dat hy op sy knieë voor hom neergeslaan het.

“Hy is sekerlik die Seun van God,” het Ruddock – wat deur Fowler as ’n “absolute malletjie” beskryf word – gesê.

Hy is sekerlik die Seun van God.
Razor Ruddock

Toe Fowler weer sien, het toeskouers baniere wat hom as ’n soort god uitbeeld by wedstryde begin rondswaai.

Dié soort fanatiese aanhang het sy kritici natuurlik nog meer ontstel en gedurende 1999 het hulle gerugte begin versprei dat hy ’n dwelmslaaf is.

Dit ontken Fowler ten sterkste. Hy was glo juis daardie tyd besig om sy aanstaande vrou, Kerrie, die hof te maak en het kamstig probeer om sy beste voetjie voor te sit.

Nou kyk, Fowler was toe al daarvoor bekend dat hy ’n stouterd was. Hy het op ’n keer ’n spanmaat se sagte aanglipskoene met ’n skêr verrinneweer en hy was nie skaam om ’n bier of ses of sewe of agt of meer in sy keel af te gooi nie.

Liverpool se ondersteuners was heeltemal behep met Robbie Fowler soos hierdie banier bewys.Foto: My Life in Football

Natuurlik het hy nogal ’n houding gehad en hy was boonop van nature ’n hardekop.

Maar niemand was voorbereid op wat hy daardie dag in 1999 gedurende Liverpool se wedstryd teen Everton by Anfield gedoen het nie.

Daar was ’n hele blok Everton-ondersteuners en hulle het hom uitgejou. Toe Fowler daardie dag sy eerste doel aanteken (hy het twee geskiet) het hy na die doellyn toe gehardloop, op sy hande en knieë neergeval en gemaak of hy kokaïen snuif.

Sy spanmaats het hom opgetrek, maar Meneer Verspot het verder gedraf en voor ’n groep brullende Everton-ondersteuners wéér so gemaak!

“Ek is jammer, maar selfs nou (jare later), is ek nie vir ’n sekonde spyt oor daai gekke feesviering nie. Ek het presies geweet wat ek doen,” sê Fowler.

Selfs nou (jare later), is ek nie vir ’n sekonde spyt oor daai gekke feesviering nie. Ek het presies geweet wat ek doen.
Robbie Fowler

Sy destydse afrigter, Gérard Houllier, het agterna gesê Fowler het eintlik gemaak asof hy gras vreet. Dis glo ’n manier van feesvier, wat Fowler kwansuis by die Kameroense speler Rigobert Song geleer het.

“Absolute bog!” sê Fowler. “Ek is nie ’n skaap wat gras vreet nie!”

’n Paar jaar later het Fowler vir Leeds gespeel. Voor ’n wedstryd teen Leicester het Leicester se gelukbringer, Filbert die Jakkals, daar rondgehardloop en Fowler-hulle gekoggel.

Toe gryp Fowler ’n bal en skop die ou teen die kop. Die toeskouers het die grappie geniet, toe gaan stoei Fowler ’n bietjie met die jakkals.

’n Dag of wat later was Fowler verbaas toe hy deur twee polisiebeamptes besoek word.

“Filbert die Jakkals sê jy het hom aangerand,” het hulle ernstig gesê en toe saam met Fowler begin lag en dít was dít.

Fowler hoef toe darem nie weer so ’n stywe boete soos daardie keer met sy kamstige gelynsnuiwery te betaal het nie!

* Bronne: My Life in Football – Robbie Fowler; theworldgame.sbs.com.au.

Fowler se omstrede gras-episode:

Meer oor:  Jamie Redknapp  |  Robbie Fowler  |  Liverpool  |  Everton  |  Engeland  |  Afrigter  |  Sokker  |  Doelskieter  |  Kokaïen-Snuiwer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.