Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Kroos boos ná Özil sê span is rassisties

Die Duitse middelveldspeler Toni Kroos het sy voormalige spanmaat Mesut Özil gekritiseer oor die wyse waarop hy sy uittrede uit internasionale sokker aangekondig het en het sy uitsprake oor rassisme in die nasionale span as “onsin” afgemaak.

Mesut Özil (links) en Toni Kroos vir Duitsland in aksie in ’n wedstryd in die Euro2016-toernooi. Foto: Getty Images

Die 29-jarige Özil het in Julie sy internasionale uittrede aangekondig nadat Duitsland nie die groepfase van die Wêreldbekertoernooi in Rusland kon oorleef nie. Dié doelvraat het toe gesê dat hy ’n slagoffer van rassisme was en daar ’n gebrek aan respek vir hom was weens sy Turkse oorsprong.

“Mesut is ’n speler wat op verdienste internasionaal meegeding het en hy het ’n beter afskeid verdien,” het Kroos aan die Duitse koerant Bild gesê. “Maar die manier waarop hy uitgetree het, is nie reg nie.”

Özil was ’n sleutel-lid van die Duitse span wat die Wêreldbeker in 2014 in Brasilië verower het en is sedert 2011 vyf keer deur Duitse ondersteuners as die nasionale span se Speler van die Jaar gekies.

Maar dié vindingryke middelveldspeler het onder geweldige kritiek deurgeloop nadat hy in Mei ’n foto van homself saam met die Turkse president, Tayyip Erdogan, laat neem het. Hy het ook deurgeloop weens sy vertonings in die WB-toernooi in Rusland.

Toe Özil verlede maand sy uittrede in ’n verklaring aangekondig het, het hy ook die Duitse Sokkervereniging (DFB) daarvan beskuldig dat hy nie vir hom in die bres getree het ná die herrie oor die foto nie.

Duitse ondersteuners het hom en Ilkay Gundogan, ’n spanmaat wat ook van Turkse afkoms is en wat ook saam met Erdogan vir foto’s geposeer het, uitgejou tydens opwarmingswedstryde vir die WB-toernooi in Mei.

In die oë van Grindel (die DFB-president, Reinhard Grindel) en sy ondersteuners is ek Duits wanneer ons wen, maar is ek ’n immigrant wanneer ons verloor
Mesut Özil

“Die dele van sy verklaring wat wel akkuraat is, word ongelukkig oorskadu deur die klomp nonsens wat hy kwytgeraak het,” sê Kroos.

“Ek dink hy weet goed dat daar nie rassisme in die nasionale span of die DFB bestaan nie.”

Duitsland het sy swakste WB-vertoning in 80 jaar in Rusland gelewer en Özil is vir een van die sondebokke uitgekryt.

“In die oë van Grindel (die DFB-president, Reinhard Grindel) en sy ondersteuners is ek Duits wanneer ons wen, maar is ek ’n immigrant wanneer ons verloor,” sê Özil in sy verklaring.

Die 28-jarige Kroos, wat die afgelope drie jaar Europese Kampioeneliga-titels in die kleure van Real Madrid verower het, het gesê hy het geen planne om sy internasionale uittrede aan te kondig nie.

“Ek sal aanhou speel tot die Euro2020-toernooi. Ek het ’n konstruktiewe gesprek met Joachim Löw (Duitsland se afrigter) gehad. Ons sal saam oplossings vind om my werklading te bestuur.” 

– Reuters

Meer oor:  Toni Kroos  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.