Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
KYK: Bolt senuagtig voor sokkerdebuut

Die Olimpiese naelloop-kampioen Usain Bolt vermoed sy senuwees gaan erg pla wanneer hy Vrydag sy sokkerdebuut vir die Central Coast Mariners van Australië teen ’n amateurspan maak.

Boonop, sê Bolt, sukkel hy nog om topfiks te raak en het hy ook nog nie gewoond geraak aan die spoed van die spel nie.

Mike Mulvey, Mariners se afrigter, het bevestig dat Bolt, die wêreldrekordhouer in die 100 m- en 200-wedlope in dié voorseisoense wedstryd in aksie sal wees.

Dié nuus maak soveel belangstelling gaande, dat ’n plaaslike uitsaaier dit regstreeks gaan beeldsend. Daar sal ook ’n verwagte 10 000 toeskouers na die Central Coast-stadion opruk.

“My senuwees gaan beslis lol. Dis nie asof ek dié keer net in ’n liefdadigheidswedstryd speel nie,” het Bolt Dinsdag ná sy span se oefensessie aan verslaggewers gesê.

Usain Bolt stel sy sokkervaardighede ten toon by ’n oefening van die Central Coast Mariners in Gosford, Australië. Foto: Getty Images

“Dis ’n heel nuwe loopbaan waarmee ek begin, so dis waarom ek skoenlappers in my maag het. Ek verwag om foute te maak, maar ek gaan alles gee en wil uiteindelik trots wees op my vertoning, al weet ek dit gaan nie volmaak wees nie,” sê die 32-jarige Jamaikaan.

Bolt se poging om hom van ’n wêreldbekende atletiek-superster tot ’n beroepsokkerspeler te omskep, is ’n lekker inspuiting vir die Mariners.

Dié span het in 2017 laaste uit 10 spanne in Australië se A-liga geëindig, maar is danksy Bolt se betrokkenheid nou op almal se lippe Doer Onder.

Al die belangstelling is egter nie positief nie.

Marco Kurz, Adelaide United se afrigter, het die Mariners se besluit om Bolt op ’n proefgrondslag by hul span te betrek, bevraagteken en gesê die A-liga moet spelers met ’n bewese reputasie werf en jong Australiese spelers help om te verbeter.

Hoewel Bolt by herhaling gesê het hoe vasbeslote hy is om ’n permanente kontrak by die Mariners los te speel, was hy beskeie toe hy oor sy vordering by dié klub uitgevra is.

Ek sal Vrydag moet leer om die spoed van die spel onder die knie te kry.
Usain Bolt

“Ek sal Vrydag moet leer om die spoed van die spel onder die knie te kry. Ek is ook nie daaraan gewoond om vinnig spoed op te tel en dan skielik te stop, om te swaai en weer anderkant toe te hardloop nie. Dít gaan ’n groot uitdaging wees.

“Maar die seisoen begin eers einde Oktober so daar’s nog tyd,” sê hy.

Bolt oefen as ’n linkervleuel en hoop om 15 tot 20 minute se speelkans te kry teen ’n span wat saamgestel is uit die beste amateurspelers van Sydney.

Mulvey wou nie veel weggee oor hoe hy beplan om Bolt in te span nie, maar het wel toegegee dat dié atleet nog ver van die vereiste standaard is.

“Kyk, hy vaar oukei. Hy het basiese vaardighede. Dís nie die probleem nie. Waarmee hy nog sukkel is om daardie vaardighede teen die spoed wat ons vereis, uit te voer.”

Mulvey sê om Bolt as ’n trekpleister te hê, is goed vir die klub.

“Hulle sê daar gaan Vrydag 10 000 of selfs 12 000 mense wees. Dís ongelooflik vir ’n voorseisoense wedstryd. Maar ek verwelkom dit, want dit plaas ons in die kollig.” – Reuters

Meer oor:  Atletiek  |  Usain Bolt  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.