Die gevaarligte behoort in enige sportsoort te flikker wanneer ’n speler sy afrigter in die openbaar op dié wyse ondermyn.

Chelsea se afrigter, Maurizio Sarri skree op Kepa Arrizabalaga om die veld te verlaat, terwyl die plaasvervanger Willy Caballero wag om op te draf. Foto: Getty Images
Kepa Arrizabalaga, Chelsea se doelwagter, het Sondagaand in die Engelse Ligabeker-eindstryd teen Manchester City geweier om vervang te word. Sy afrigter, Maurizio Sarri, het woedend op die kantlyn tekere gegaan toe die speler sy opdrag teenstaan.

Nee, hokaai, beduie Kepa Arrizabalaga. Foto: Getty Images
City het Chelsea in ’n strafdoelstryd met 4 – 3 geklop in ’n dramatiese kragmeting op Wembley, maar die bisarre voorval tussen Sarri en die Spanjaard – die wêreld se duurste doelwagter – het die kollig gesteel.
BBCSport berig die wedstryd het ná afloop van ekstra tyd gelykop met 0 – 0 geëindig.
Die gemoedere het begin oorkook in die doodsnikke toe Arrizabalaga weier dat Sarri ’n plaasvervanger in sy plek opstuur. Die doelwagter het gesukkel met krampe en sy breier was gereed om hom met Willy Caballero te vervang, maar Sarri het ’n woedeaanval op die kantlyn beleef toe Arrizabalaga aandring om aan te hou speel.
Die beleërde breier het die voorval ná afloop van die wedstryd as ’n “misverstand” beskryf.
“Soos ek verstaan het, het die doelwagter aan krampe gely en kon nie aan die strafdoelstryd deelneem nie,” sê die Italianer.
“Maar dit was nie krampe nie en hy kon toe verder deelneem. Dit was ’n groot misverstand.”
Arrizabalaga, wat hom in Augustus vir 80 miljoen euro by Chelsea aangesluit het, sê in ’n verklaring op Twitter hy is “spyt oor hoe die einde van die wedstryd uitgebeeld word”.
“Ek het alle respek vir die afrigter en sy outoriteit,” sê hy.
Vincent Kompany, City se kaptein, het die spot met die voorval gedryf.
“Ek het nog nooit so iets aanskou nie,” sê hy.
“Ek wens ek kon dit af en toe doen wanneer ek nie wil vervang word nie.”
Die voorval laai die druk op Sarri (60), met Chelsea wat hom in ’n onbevredigende sesde plek op die Premierliga-puntelys bevind.
– Sportredaksie