Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
KYK: Caster sluit kontrak met sokkerklub

Die tweemalige Olimpiese kampioen Caster Semenya gaan glo haar spykerskoene verruil vir sokkerstewels nadat sy ’n kontrak met die plaaslike vroueklub JVW gesluit het.

Caster Semenya het die week ‘n kontrak met die JVW-sokkerklub onderteken. Hier oorhandig die klub se voorsitter en Banyana Banyana se kaptein, Janine van Wyk, Semenya se trui aan haar.Foto: Verskaf

Semenya, wat tans in die Switserse federale hooggeregshof in ’n stryd met die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) gewikkel is, sal glo in 2020 by die klub aansluit en kan dan moontlik haar buiging op die sokkerveld maak.

JVW, wat deur die Banyana Banyana (die nasionale vrouespan) se kaptein, Janine van Wyk, besit word, het in ’n verklaring bevestig dat Semenya ’n kontrak met haar klub onderteken het.

“Ek is dankbaar vir die geleentheid en ek is dankbaar vir die ondersteuning en liefde wat ek reeds van die span ontvang het,” het Semenya in die verklaring gesê.

“Ek sien uit na die nuwe uitdaging en hopelik kan ek ook ’n groot bydrae tot die klub maak.”

Semenya sal reeds saam met die span kan oefen, maar eers in 2020 vir hulle in die Sasol-vroueliga uitdraf nadat die oordragtydperk, waartydens klubs nuwe spelers kan kontrakteer vir die reeks, reeds gesluit het.

Ek sien uit na die nuwe uitdaging en hopelik kan ek ook ’n groot bydrae tot die klub maak.
Caster Semenya

Van Wyk, wat haar eie klub verlaat het om vir die Deense span Fortuna Hjorring te gaan speel, glo dat die 800 m-spesialis dalk ’n belowende toekoms in sokker het.

“Ek is in ekstase om so ’n ikoniese atleet te hê wat by die klub aansluit,” het Van Wyk gesê.

“Ek is geëerd dat sy uit al die vrouespanne in die wêreld vir JVW gekies het as die span waar sy haar sokkervermoëns wil ontwikkel.”

Semenya het Dinsdag reeds die eerste keer saam met die span geoefen en Van Wyk het ook gaan loer hoe die nuwe aanwins vertoon het.

“Ek het haar verwelkom by die eerste oefensessie en ek was beïndruk om te sien dat sy beslis oor al die basiese vaardighede beskik.”

JVW beklee tans die tweede plek op die puntelys van die Gauteng-liga.

Semenya se skuif na sokker dui straks daarop dat sy nie verwag om haar veelbesproke saak teen die IAAF te wen nie.

Semenya se hoop om haar titel in die 800 m by vanjaar se Wêreldkampioenskappe in Doha te verdedig, is in Julie deur ’n Switserse regter in die wiele gery nadat hy die tydelike opskorting van die IAAF se regulasies rakende vroue-atlete met natuurlike hoë vlakke van testosteroon, omgekeer het.

Sy het by die Switserse federale hooggeregshof appèl aangeteken het teen die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) se beslissing dat die IAAF se regulasies wel geïmplementeer kan word.

Volgens die IAAF se regulasies mag vroueatlete met natuurlike hoë testosteroonvlakke nie aan items tussen die 400 m en myl deelneem sonder om van medikasie gebruik te maak om hul testosteroonvlakke te verlaag nie.

Die saak is steeds aan die gang met Semenya se aansoek om die IAAF se regulasies op te skort, terwyl die saak afgehandel word, wat tydelik suksesvol was.

Sy het in daardie tyd die 800 by die Prefontaine Classic-atletiekbyeenkoms in Stanford, Kalifornië gewen en voor dit ook in Junie die 2 000 in Montreuil in Frankryk, voordat die Switserse regter dié aansoek omgekeer het.

* Die Jamaikaanse naelloop-legende Usain Bolt het vroeër lank saam met ’n Australiese beroep-sokkerspan, die Central Coast Mariners, geoefen. Kontrak-onderhandelinge met dié klub het egter skipbreuk gely en Bolt het vir eers sy sokkerdroom laat vaar.

Meer oor:  Janine Van Wyk  |  Caster Semenya  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.