Tom King, doelwagter van Newport County, het vandeesweek in ’n Engelse tweedeliga-wedstryd teen Cheltenham Town die Guinness-wêreldrekord verbeter vir die langste doel.

Tom King, doelwagter van Newport County, is ’n trotse nuwe wêreldrekordhouer. Foto: Getty Images
Die telling was 0-0 in die 12de minuut toe King die bal binne sy doelkampie plaas en dit in die rigting van Joshua Griffiths, sy regstreekse teenstander in die Cheltenham-doelhok, sool. Sy tydsberekening was so goed dat die bal ’n paar meter voor die doelgebied aan die ander kant van die veld wip, met ’n bietjie hulp van ’n sterk wind bo-oor ’n magtelose Griffiths trek, en in Cheltenham se doelhok beland.
Guinness het die rekord Donderdag bekragtig, met die doel van 96,01 m ’n verbetering op die poging van die voormalige Stoke City-doelwagter Asmir Begovic teen Southampton in 2013.
“Ek is absoluut verheug want dit is nie iets wat ek met opset beplan het nie,” sê King.
“Ek is seker dit sal nog lank bespreek word, so ek is trots en ek is seker my familie is ook trots.
“Hopelik staan die rekord vir lank sodat ek my kleinkinders eendag kan wys.”
King het egter geweier om die doel te vier uit respek vir sy Cheltenham-teenstander Griffiths, al was dit sy eerste suksesvolle poging as ’n beroepspeler.
“Ek het eerlikwaar nie eers geweet hoe om dit te vier nie en ek het ná die wedstryd vir die ander doelwagter om verskoning gevra. Dit is nie lekker om aan die ontvangkant van so iets te wees nie,” sê hy.
– Reuters