Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
KYK: ‘Rassisme oral, nie net in sokker’

Manchester City se afrigter, Pep Guardiola, sê “rassisme is oral”, nadat sy doelskieter Raheem Sterling glo geteiken is in ’n wedstryd teen Chelsea.

Pep Guardiola (links) en Raheem Sterling. Foto: Getty Images

Die polisie ondersoek ’n voorval van rassistiese uitjouery waarby Sterling en ’n groep toeskouers betrokke was in City se Premierliga-nederlaag van 0-2 Saterdag op Stamford Bridge.

“Rassisme is oral, nie net in sokker nie,” sê Guardiola.

“Ons moet baklei om ’n beter toekoms vir ons almal te skep, nie net in Engeland nie, maar oral.”

Chelsea het hom in ’n verklaring sterk teen die voorval uitgespreek en sê hy verleen sy “volle ondersteuning” in die polisie se ondersoek.

Die klub het vier mense van sy wedstryde verban terwyl die ondersoek afgehandel word.

Colin Wing (60), een van die geskorste toeskouers, het aan die Daily Mail gesê hoewel hy gevloek het, hy die woord “Manc” eerder as “black” gebruik het.

“Ek is diep verleë oor my eie gedrag,” sê hy. “Ek vra onvoorwaardelik om verskoning aan Raheem en hoop hy kan ’n beter man wees as ek deur dit te aanvaar.”

Beeldmateriaal doen die ronde op sosiale media van ’n voorval waar daar op Sterling (24) geskree word terwyl hy die bal agter die doelhok gaan haal.

Sterling, wat Engeland op die Wêreldbekertoernooi in Rusland verteenwoordig het, sê in ’n inskrywing op Instagram dat hy “moes lag” toe hy die rassistiese opmerkings hoor, want hy verwag “niks beter” nie.

Hy het ná Saterdag se kragmeting boonop verklaar koerante help om “rassisme aan te blaas” met die profiele wat hulle van jong swart sokkerspelers skep.

Dit het ’n debat onder belanghebbers in die spel ontketen.

Die Professional Footballers’ Association meen die negatiewe mediadekking van Sterling “moedig rassistiese retoriek aan” en dat die speler “gereeld uitgesonder” word.

“Raheem is ’n ongelooflike mens,” sê Guardiola.

“In die 21ste eeu is dit moeilik om vandag te verstaan wat jare gelede met swart mense gebeur het. Ons moet ons gelykwaardigheid beskerm en beter wees.

“Jy verwag dit (negatiwiteit) wanneer hy swak gespeel het, maar net oor die kleur van sy vel? Nee.

“Die werklike mag vandag rus by die media, nie die politici nie, so hulle het ’n verantwoordelikheid.”

John Barnes, voormalige Liverpool-ster wat in 1986 en 1990 Wêreldbekersokker vir Engeland gespeel het, sê rassisme het nooit werklik verdwyn nie.

’n Voorval waar hy ’n piesangskil van die veld afgeskop het in ’n wedstryd by Everton in 1988, is welbekend.

“Dit sou dieselfde ou rassistiese uitjouery vir enige swart speler in die 1980’s gewees het, piesangs wat op die veld gegooi word, net iets wat aanvaarbaar was in sokker en die samelewing in die geheel,” sê Barnes.

“Miskien het jy die openlike rassisme wat ek beleef het nie die afgelope 20 jaar gesien nie. Nou, met die Raheem Sterling-voorval, het dit miskien weer sy lelike kop uitgesteek.

“Ek is nie verras nie, want swart mense beleef onsigbare piesangskille wat na hulle gegooi word en onuitgesproke rassisme elke dag.”

– BBCSport

Meer oor:  Rassisme  |  Raheem Sterling  |  Chelsea  |  Manchester City  |  Pep Guardiola  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.