Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
KYK: Spelers beseer in sokkerskande
River Plate-ondersteuners daag Saterdag die onlustepolisie uit. Foto: AP

Die tweede been van die Copa Libertadores-eindstryd tussen Boca Juniors en River Plate is Sondag vir ’n tweede keer uitgestel.

Die Argentyne praat van ’n Superclasico as hul twee grootste sokkerspanne teen mekaar speel, maar daar was niks super aan wat hom die naweek afgespeel het nie.

BBCSport berig geweld het veroorsaak dat die wedstryd tussen die geswore teenstanders Saterdag vertraag is.

Boca Juniors se spanbus is op pad na die wedstryd by River se Estadio Monumental-stadion deur River Plate-aanhangers aangeval.

Die wedstryd is uitgestel na Sondag om 20:00 (Greenwichtyd), 24 uur later as beplan, maar is drie ure voor die nuwe afskoptyd afgelas.

Boca het ’n beroep gedoen op Conmebol, die beheerliggaam vir sokker in Suid-Amerika, om op te tree en diegene wat deur Saterdag se geweld geraak is, meer tyd te gun om te herstel.

Conmebol het later in ’n verklaring bevestig die wedstryd sou nie Sondag voortgaan nie.

’n Besluit oor of die wedstryd op ’n ander datum beslis sal word, is nog nie geneem nie.

Dié twee spanne het op 10 November in die eerste been van die eindstryd in Boca se La Bombonera-stadion gespeel, waar die tuisspan tevrede moes wees met ’n gelykopuitslag van 2-2.

Boca-spelers het Saterdag snywonde weens gebreekte busruite opgedoen en is ook aangetas deur die traangas wat die polisie gebruik het om die skare uitmekaar te jaag.

Die spandokters het verskeie spelers, wat Boca se voormalige Manchester City-, Manchester United- en Juventus-doelskieter Carlos Tevez insluit, vir duiseligheid en naarheid behandel.

Pablo Perez en Gonzalo Lamardo is per ambulans na ’n hospitaal geneem, met eersgenoemde wat stukkies glas in sy oë gehad het en laasgenoemde met ’n sny op sy kop.

Gonzalo Lamardo van Boca Juniors. Foto: Getty Images

Dié spanne verpes mekaar só dat slegs tuistoeskouers by albei wedstryde toegelaat sal word – daar is nie genoeg polisie in Suid-Amerika om dié spanne se ondersteuners uitmekaar te hou nie.

Die vorige keer dat hulle in die Libertadores teen mekaar gespeel het – in die ronde van 16 in 2015 – is Boca uit die kompetisie geskop nadat sy ondersteuners die River-spelers met pepersproei in die tonnel toegetakel het.

Voorheen was daar in 2012 onluste toe River ’n opblaasvark in Boca-kleure gelanseer het. Boca-ondersteuners het sekerheidspersoneel teen hul paviljoen opgesleep en by die trappe afgegooi.

Tevez is in die 2012-halfeind tussen dié spanne afgejaag weens ’n hoenderdans – dié wedstryd het met nege spelers weerskant klaargemaak. Albei bestuurders het ook die trekpas gekry.

– Sportredaksie

Meer oor:  Copa Libertadores  |  Boca Juniors  |  River Plate  |  Sokker  |  Conmebol
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.