Murrayfield, die tuiste van die Skotse Rugbyunie, sal in Julie die eerste keer gasheer wees vir ’n wedstryd van die Engelse sokkerspan Liverpool.

Die Engelse sokkerspan Liverpool gaan op Murrayfield speel. Foto: Getty Images
Die Reds is vroeër die maand as die Europese Kampioenliga gekroon toe hulle Tottenham Hotspur in die eindstryd met 2-0 verslaan het.
Liverpool en Napoli, ’n Italiaanse klubspan, sal op 28 Julie in die Skotse hoofstad kragte meet.
Dit is egter nie die eerste keer wat daar sokker op Murrayfield gespeel sal word nie. Daar is agt sokkerwedstryde die afgelope 15 jaar op die veld gespeel.
Dominic McKay, uitvoerende hoof van die Skotse Rugbyunie, sê in ’n mediaverklaring hulle is verheug om ’n wedstryd van wêreldklasgehalte aan te bied.
“Ondersteuners wat na Murrayfield kom het ’n goeie ervaring, of dit nou vir die Hearts (’n Skotse sokkerspan), wat vier wedstryde hier in 2017 gespeel het, of vir wedstryde in die Sesnasiesreeks is,” sê McKay.
Billy Hogan, besturende direkteur van Liverpool, sê Murrayfield is deel van dié klub se erfenis.
– Sportredaksie