Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
‘Mag Maradona nou in Here se hande rus’

Huldeblyke stroom in vir Diego Maradona, die Argentynse sokkerlegende, wat Woensdag aan ’n hartaanval in die ouderdom van 60 gesterf het.

Die Franse sportkoerant L’Equipe het so ver gegaan om op sy voorblad te sê “Dieu est mort” (God is dood).

Só lyk die voorblad van die Franse sportblad L’Equipe ná Diego Maradona se afsterwe. Foto: dailymail.co.uk

Maradona word alom beskou as een van die beste spelers van alle tye en sal veral onthou word vir sy uitlating oor ’n omstrede doel wat hy in 1986 in Argentinië se oorwinning van 2-1 oor Engeland in die Wêreldbeker-toernooi in Mexiko aangeteken het.

Die wedstrydbeamptes het nie raakgesien dat Maradona sy hand gebruik het nie en die Argentyne het gevolglik met 1-0 voorgeloop.

Maradona se destydse antwoord op vrae hieroor was dat die doel “ ’n bietjie met die kop van Maradona en ’n bietjie met die hand van die Here” aangeteken is. Daar word sedertdien in die sokkerwêreld na daardie doel as die “Hand of God”-doel verwys.

Hy het skares in sy loopbaan bekoor en later ’n stryd teen kokaïenverslawing gevoer.

Koerante in Argentinië het almal op hul voorblaaie van Maradona afskeid geneem. Foto: AP

Maradona is ’n huishoudelike naam en sterre oor sportkodes heen het aan hom hulde gebring.

Argentinië se rugbyspan, wat Saterdag teen Nieu-Seeland in Newcastle, Australië, gaan speel, beplan om hom te vereer, sê Mario Ledesma, die Poemas se afrigter. Maradona was ’n groot ondersteuner van die Argentynse rugbyspan.

“Of daar nou tennis, hokkie, rugby, sokker of wat ook al in ’n Argentynse trui gespeel is, was hy daar. Hy het ’n voorbeeld gestel oor hoe jy daardie trui met trots dra,” het Ledesma volgens Reuters gesê.

“Die wêreld het stilgestaan wanneer hy in die skare was. Hy het die aura van ’n towenaar gehad. Tydens ’n wedstryd teen die All Blacks het hy sy arms in die lug gegooi en alles het tot ’n stilstand gekom. Ons Argentyne het almal tot stilstand gekom en opgekyk en die All Blacks het tot stilstand gekom.”

’n Vrou in Napels groet vir Maradona met ’n laken oor haar balkon. Maradona het vir die Italiaanse klub Napoli gespeel. Foto: Reuters

Volgens Ledesma is dit die Argentynse bestuurspan eerder as die spelers wat die impak van Maradona se dood voel, want die ouer garde onthou hom as ’n speler.

“Hy het baie vreugde aan baie mense in moeilike tye gebring. Hy het uit ’n baie nederige agtergrond gekom en die koning van die wêreld geword.”

Die tennisster Rafael Nadal het ook ’n huldeblyk aan Maradona gelewer.

“Daar is vandag in die sportwêreld en veral sokker ’n leemte,” het Nadal op Twitter gesê.

“Een van die grootste sportmense in die geskiedenis het ons verlaat. Sy nalatenskap in sokker sal nie vergaan nie.

Lionel Messi, superster van Argentinië en die Spaanse spogklub Barcelona, het Maradona se afsterwe op Instagram beskryf as ’n “baie hartseer dag vir alle Argentyne en sokker”.

“Hy het ons verlaat, maar is nêrens heen op pad nie, want Diego is vir altyd,” sê Messi.

Diego Maradona in aksie in die 1990 Wêreldbeker-toernooi in Italië. Foto: Getty Images

Die Brasiliaanse sokker-ikoon Pelé sê dit is “hartseer nuus om só ’n vriend te verloor”.

“Mag die Here sy familie genoeg sterkte gee. Eendag gaan ons saam in die hemel speel.”

Diego Simeone, afrigter van Atletico Madrid, sê Maradona was die toonbeeld van hoe om sokker te speel.

“Hierdie hartseer oomblik maak ons almal seer. Maradona is sokker, hy is Argentinië, hy het ’n rebelse karakter gehad, wat hom oral waar hy heen gegaan het gedefinieer het.

“Hy het my opgepas toe ons albei by Sevilla was en ek baie jonk was. Hy mag weg wees, maar sy gees sal op elke sokkerveld voortleef.”

Cristiano Ronaldo, die Portugese sokkerster wat vir Juventus in Italië speel, sê hy neem “van ’n vriend afskeid”.

“Hy was ’n genie sonder weerga. Hy verlaat ons te vroeg, maar sy nalatenskap ken nie perke nie en die leemte sal nooit gevul word nie. Jy sal nooit vergeet word nie.”

Gary Lineker, die doelskieter wat Engeland se doel aangeteken het in 1986 se wedstryd teen die Argentyne, het ook ’n huldeblyk gelewer.“Hy was verreweg die beste speler van my generasie en waarskynlik die beste van alle tye. Ná ’n geseënde, maar ook stormagtige lewe, sal hy hopelik in die hande van die Here rus.”

Meer oor:  Diego Maradona  |  Depressie  |  Hartaanval  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.