Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
City gee applous – en toe pak slae

Manchester City het die nuwe Engelse sokkerkampioen, Liverpool, Donderdagaand met grasie op die veld verwelkom deur applous te gee en daarna geen verdere gunste gedoen nie deur hulle met 4-0 te troef in die Etihad-stadion.

Manchester City se spelers vorm ’n erewag vir Liverpool, wat verlede week as die Engelse Premierliga-kampioen gekroon is. Foto: Reuters

Met die Engelse Premierliga-titel wat reeds ’n week gelede verower is, was daar nie veel op die spel vir Jürgen Klopp se span nie en hul intensiteit was afwesig in wat maar slegs hul tweede nederlaag van die seisoen was. City het nietemin met dié sege gewys hy is oorgehaal om aanstaande seisoen sy titel terug te wen.

Klopp was egter gou om sy span se vertoning te verdedig en het ontken dat hulle die wedstryd ligtelik opgeneem het.

“Ek het veggees en ’n uitstekende houding gesien. Ons het nie gereageer soos iemand wat net ’n week gelede die titel gewen het nie. Ons het eenvoudig nie vloei in ons spel gehad nie. In die 50/50-situasies was hulle net skerper as ons,” sê hy.

“Manchester City is ongelooflik. Ek het hul seisoen gesien en hulle het selfs wanneer hulle verloor het nie sleg gespeel nie.”

Ná die erewag vir Liverpool, wat City se afrigter, Pep Guardiola, ingesluit het, het die besoekers goed begin en die doelwagter, Ederson, moes op sy stukke wees om ’n poging van Mohamed Salah uit te hou.

Raheem Sterling vier fees nadat hy die tweede van Manchester City se vier doele teen Liverpool aangeteken het. Foto: AP

Salah het daarna die regop paal getref ná ’n slim aangee van Roberto Firmino, wat sy hare rooi gekleur het, maar as Liverpool gedink het hier kom ’n oorwinning is hulle wreed ontnugter.

Joe Gomez kon nie Raheem Sterling aan bande lê nie en hy het hom onwettig neergevel en Kevin de Bruyne het die strafdoel in die 25ste minuut behaal.

Tien minute later het Sterling die voorsprong verdubbel en die 20-jarige Phil Foden het dit 3-0 gemaak deur die doelwagter, Alisson, te klop.

City het van lang aangeë gebruik gemaak en ná ’n kombinasie van De Bruyne en Sterling het die plaasvervanger Alex Oxlane-Chamberlain, ’n eiedoel aangeteken.

“Ons het die kampioen geklop. Hulle is ’n buitengewone span,” sê Guardiola.

“Ons het sokker probeer speel en kanse gewaag teen die beste span waarteen ek nog in my lewe te staan gekom het. Hulle het vandeesweek baie bier gedrink, maar het sonder enige bier in hul bloed hier aangekom en daarom gee ek ons baie krediet.”

Dié nederlaag ewenaar die grootste deur ’n span wat reeds gekroon is as Premierliga-kampioen. Arsenal is in die seisoen van 1997-’98 deur Liverpool met dieselfde telling geklop nadat hy reeds die titel beklink het. – Reuters

Meer oor:  Liverpool  |  Manchester City  |  Engelse Premierliga  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.