
Phil Jones (links) sê Ole Gunnar Solskjaer verdien baie lof vir die ommekeer wat hy by dié klub teweeg gebring het sedert hy die leisels by José Mourinho oorgeneem het. Foto: AP
Manchester United is nie meer die uil onder die kraaie in die Engelse Premierliga nie en moet weer ernstig opgeneem word.
So het dié span se verdediger Phil Jones gesê nadat hul sege oor Fulham die afgelope naweek die Rooi Duiwels tot op die vierde plek op die Premierliga-puntelys laat opskuif het.
Volgens hom het hul waarnemende afrigter, Ole Gunnar Solskjaer, weer ’n positiewe ingesteldheid by die span gevestig sedert hy die leisels by José Mourinho oorgeneem het. Hoewel hulle nog nie die voltooide produk is nie, glo Jones hulle beweeg vinnig in regte rigting.
“Dit was moeilik toe ons aan die begin van die seisoen die onderwerp van bespotting was. Maar dis gewis nie meer die geval nie,” het Jones ná hul sege van 3-0 gesê.
“In ons laaste tien of 12 wedstryde het ons gewys dat ons ’n span is wat ernstig opgeneem behoort te word.”
Toe Solskjaer in Desember die span begin afrig het, was United nog 11 ligapunte agter die span in die vierde plek.
Onder hom het hulle egter agt uit nege ligawedstryde gewen (een was gelykop) en in alle kompetisies het hulle in tien uit 11 geseëvier.
Jones sê baie van dié onlangse sukses kan aan Solskjaer se afrigting toegeskryf word.
“Hy het ’n ingesteldheid gevestig waar ons positief bly en veg vir oorwinnings, al speel ons nie besonders goed op ’n gegewe dag nie. Ons speel ook met groter doelgerigtheid.”
Die groot vraag is natuurlik of Solskjaer se aanstelling permanent sal word.
Toe die gewese United-ster Wayne Rooney verlede week hieroor uitgevra is, het hy gesê Solskjaer het gewys dat hy verdien om die klub se heeltydse afrigter te word.
Hy sê indien Man United se base daarteen besluit om Solskjaer ’n permanente pos te gee, sal Mauricio Pochettino, Tottenham Hotspur se afrigter, ’n goeie alternatief wees.
* United pak die Franse klub Paris Saint-Germain Dinsdagaand op Old Trafford in die eerste stryd van hul ronde van 16 kragmeting in die Europese Kampioeneliga. – Reuters, Sportredaksie