Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Manchester United byt vas om City te klop

Manchester United moes Saterdagaand ’n onophoudelike aanslag deur sy bure en aartsvyand, Manchester City, afweer om sy Premierliga-stryd met 2-1 te wen.

City sou ná rustyd ’n nuwe hoofstuk in hul geskiedenisboeke moes neerpen as hulle die wedstryd wou wen, want nog nooit kon die Ligbloues ’n agterstand van 0-2 met die omdraaislag in die Premierliga uitwis om ’n wedstryd te beklink nie.

Marcus Rashford van Manchester United vier sy span se eerste doel in hul Premierliga-derby teen Manchester City.Foto: Getty Images

Doele deur Marcus Rashford en Anthony Martial het United teen rustyd met 2-0 voor geplaas, maar in die tweede helfte moes hulle ’n hard werk om City te stuit.

Nicolás Otamendi se doel in die 85ste minuut het vir City ’n skrale hoop gegee, maar dit was eindelik te min te laat.

Die wen het beteken dat United van die agtste plek op die puntelys tot die vyfde klim.

* Jürgen Klopp se span het voort gestoomroller toe Liverpool sy sewende agtereenvolgende Premierliga-oorwinning behaal en sodoende sy plek voor op die puntelys verstewig het.

Die span van Anfield het Bournemouth gemaklik getroef met 3-0 om ’n gaping van 11 punte voor op die puntelys te skep tussen hulle en Leicester City, wat tans in die tweede plek lê.

Mohamed Salah het die kollig gesteel en sy span se onoorwonne rekord in dié liga tot 33 wedstryde vergroot, terwyl Naby Keïta self ook ’n doel vir Liverpool aangeteken het.

Leicester pak Sondag vir Aston Villa, wat die seisoen gesukkel het en tans die 17de plek op die puntelys beklee.

* Heung-min Son was die groot ster vir Tottenham Hotspur in hul 5-0 vertrapping van Burnley.

Harry Kane het twee van sy span se doele in die Tottenham-stadion aangeteken, terwyl Lucas Moura en Moussa Sissoko self ook die agterkant van die net gevind het.

Dit was egter die Suid-Koreaan se doel wat ondersteuners nog lank gaan bybly. Hy het Nick Pope na stof laat gryp in ’n lopie van sowat 80 m en in die proses sommer ses Burnley-spelers geklop om sy span met 3-0 voor te laat loop.

José Mourinho se span het met dié sege nader gekruip aan Chelsea wat ses punte voor hulle in die vierde plek lê met 29 punte.

* Chelsea het ’n drag slae van 3-1 deur Everton op die lyf geloop in ’n vertoning wat Duncan Ferguson breed sou laat glimlag.

Dominic Calvert-Lewin het twee doele aangeteken.

Dit was maar net Everton se vyfde regmerkie in die reeks, maar die span het met passie gespeel. Everton was byna onherkenbaar ná ’n rits swak vertonings die afgelope paar maande.

Dié keer was dit egter Chelsea wat harde bene gekou en raadop voorgekom het.

Meer oor:  Mancheser City  |  Premierliga  |  Manchester United
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.