Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Manchester United kry Spurs ook onder
Tottenham Hotspur se Harry Kane (links) kry die bal weg voor Manchester United se Paul Pogba in Sondag se Premierligawedstryd in Londen. Foto: Reuters

Die Ole Gunnar Solskjaer-stoomtrein snel steeds voort!

Solskjaer se Manchester United het Sondag in die Wembley-stadion in Londen sy sesde opeenvolgende sege behaal sedert dié Noorweër ’n paar weke gelede die leisels (as instaan-afrigter) by José Mourinho geneem het.

Die Rooi Duiwels het Tottenham Hotspur met 1-0 in die Engelse Premierliga geklop nadat Marcus Rashford die wendoel in die 44ste minuut van dié opwindende wedstryd aangeteken het.

Daar is vooraf baie geskryf, gepraat en bespiegel of Spurs se afrigter, Mauricio Pochinetto, nie dalk op pad na Manchester is om Mourinho se skoene vol te staan nie.

Maar wie kan teen Solskjaer se ses uit ses stry, veral nadat die glimlagte op United-spelers se gesigte terug is en die span weer met die passie van ouds speel?

Spurs het besit oorheers, maar hom vasgeloop teen ’n skitterende David de Gea in United se doelhok.

Spurs (48 punte) beklee steeds die derde posisie op die puntelys, twee punte agter Manchester City (wat ’n wedstryd minder gespeel het) en nege punte agter die voorloper, Liverpool (57) ná 22 wedstryde.

* Liverpool se afrigter, Jürgen Klopp, sê sy seëvierende span se voorsprong van sewe punte bo Manchester City beteken niks nie.

Liverpool het Saterdag sy voorsprong vergroot toe hy Brighton & Hove Albion met 1-0 geklop het.

Wat Klopp se selfvertroue die hoogte laat inskiet het, is sy span se bestendigheid.

Die Reds het die seisoen al 16 wedstryde teen spanne wat nie in die topses is nie, gewen.

Nog net vier spanne het voorheen in dié stadium van die liga met 57 punte of meer punte gespog.

Liverpool het in 22 wedstryde ook nog net 10 doele afgestaan. Dit is die minste sedert Chelsea in 2004/’05 net agt doele in 22 kragmetings deurgelaat het.

“Ons kon beter gespeel het, maar ek is tevrede, want ons mikpunt was om te wen en dis wat ons gedoen het,” het Klopp gesê.

* Chelsea se afrigter, Maurizio Sarri, sê dit is baie belangrik dat sy ster-speler Willian by die klub aanbly nadat hy Saterdagaand die wendoel teen Newcastle United aangeteken het.

Chelsea het met 2-1 gewen.

Daar was verlede week sprake dat Willian, wat hom in Augustus 2013 van die Russiese klub Anzhi Makhachkala af by Chelsea aangesluit het, in Barcelona se visier is.

“Ons kort doelskieters, dus het ons Pedro nodig, ons kort (Callum Hudson-) Odoi, ons het Willian nodig,” het Sarri gesê.

Chelsea (47) is nou ses punte voor Arsenal (41), wat onverwags met 1-0 deur West Ham geklop is.

Arsenal se afrigter, Unai Emery, het sy besluit verdedig om Mesut Ozil ’n vierde agtereenvolgende keer uit die span te laat.

“Ons wen met hom, ons verloor met hom. Ek glo nie dis een speler wat ons laat wen of verloor nie,” het Emery gesê. – bbcsport.com, skysports.com

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.