Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Mbane se reis van Sterkspruit tot Frankryk

Haar ma, Nancy, was in trane toe Bambanani Mbane haar bel met die nuus dat sy Suid-Afrika in vanjaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi vir vroue gaan verteenwoordig.

Die 29-jarige Mbane, ’n boorling van Sterkspruit (’n Oos-Kaapse dorp naby die Lesotho-grens), is onlangs ingesluit by Banyana Banyana se finale groep van 23 spelers vir die toernooi wat van 7 Junie tot 7 Julie in Frankryk gespeel word.

Suid-Afrika speel vir die eerste keer in dié skouspel.

Bambanani Mbane vroeër vanjaar in aksie teen Lesotho in die Dr. Petrus Molemela-stadion in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

Mbane, wat haar klubsokker vir Bloemfontein Celtic speel, het Banyana reeds 43 keer verteenwoordig.

“Ek kan nog steeds nie glo ek is op pad Wêreldbeker toe nie. Wat ek wel weet, is dat ek baie geseënd is om deel van die span te wees,” het Mbane, ’n verdediger wat in die nommer 13-trui speel, vandeesweek voor hul vertrek na Parys gesê.

“Dit is vir my ’n droom wat waar geword het. Dis enige sokkerspeler se droom om in ’n Wêreldbeker-toernooi te speel.

“Ek het lank hiervoor gebid en hard gewerk en nou gebeur dit, alle eer aan God vir die talent waarmee Hy my geseën het. Ek kan nie wag dat die toernooi begin nie.”

Volgens Mbane is sy diep dankbaar vir al die ondersteuning wat sy in haar loopbaan van haar gesin kry. Sy sê hulle ken haar swaarkry en die moeilike tye waardeur sy is.

“My ma het gehuil toe sy hoor ek is by die finale groep vir die Wêreldbeker-toernooi ingesluit. Sy weet dit was nie ’n maklike reis om te kom tot waar ek vandag is nie,” sê Mbane.

In Frankryk is sy egter onder die wakende oog van haar “ander ma”, die Banyana-afrigter, Desiree Ellis.

Coach Des is soos ’n ma vir die span. Sy is altyd daar vir haar spelers, maak nie saak wat nie, op en van die veld af. Sy weet hoe om ons gemotiveerd te hou.”

Banyana het onlangs met 0-3 teen Amerika, die voorste span in die wêreld, vasgeval, maar Mbane sê dié uitslag pla hulle nie aangesien dit waardevolle voorbereiding was.

’n Wedstryd teen só ’n kragtige span was broodnodig, want in Frankryk gaan Banyana op ’n veel hoër vlak meeding as waaraan hulle gewoond is.

“Dit (WB) gaan ons moeilikste uitdaging tot nog toe wees. Dis die eerste keer dat ons aan só ’n groot toernooi deelneem. Elke span teen wie ons te staan kom, gaan taai wees, ons weet dit. Ons sal egter gefokus moet bly om goed te vertoon.”

En, sê sy, hulle wil ’n blywende indruk op die sokkerwêreld laat.

“Ons wil hê Duitsland, Spanje en China moet onthou dat hulle teen Banyana Banyana gespeel het.

“Nou moet die hele Suid-Afrika net agter ons staan, dan kan dit mos net goed gaan met ons. Wys vir ons liefde.”

Banyana se groepwedstryde is op 8, 13 en 17 Junie teen onderskeidelik Spanje, China en Duitsland.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.