Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Moedige Banyana uitgeskakel

Hoewel Banyana Banyana Maandag in Montpellier met 4-0 in die laaste wedstryd van hul geskiedkundige Wêreldbeker-sokkertoernooi deur Duitsland uitgeskakel is, het van hul spelers weer naam vir hulself gemaak

Suid-Afrika se Refiloe Janes en Mamello Makhabane is verslae na die span se laaste Wêreldbeker-wedstryd Maandag teen Duitsland. Foto: Reuters

Duitsland, naasbestes op die ranglys en Banyana se sterkste groepteenstander, het die toernooi al twee keer gewen en was drie keer in die eindstryd.

Die Duitsers het rustyd reeds met 3-0 voorgeloop.

Hoewel die nederlaag Banyana segeloos in hul laaste 13 wedstryde gehou het, sal die Suid-Afrikaners glo dat die gaping tussen hulle en voorste spanne kleiner word.

Die rede waarom die onoorwonne Duitsers nie verder gewen het nie, was die onverskrokke keerwerk van die doelwagter, Andile Dlamini, wat een van vier veranderinge in die beginspan was.

Die verdediger Janine van Wyk het die wenspan in die eerste helfte frustreer en daarna was dit Dlamini wat ’n doring in die wenspan se vlees was.

Die ander Suid-Afrikaanse speler wat aanbieding van internasionale klubs kan verwag, is natuurlik die spoedvraat Thembi Kgatlane, wat Maandag eers in die tweede helfte opgestuur is.

Behalwe Van Wyk, die kaptein, en Dlamini se heldedade het die Duitsers ’n paar maklike kanse weggesmyt.

Duitsland het met sy eerste hoekskop in die 14de minuut na ’n kopskoot van Melanie Leupolz die voortou geneem.

Sara Däbritz het dit in die 29ste minuut dit 2-0 ná ’n lelike blaps van Dlamini gemaak. Dit was ’n doel op ’n skinkbord. Dlamimi het die bal aangeslaan en die aanstormende Däbritz ’n pasella doel gegee.

Die tiener Klara Bühl, een van drie veranderinge onder die Duitsers, het met net die doelwagter voor haar ’n verspot maklike doel weggesmyt.

Alexandra Popp, wat vroeër met ’n gapende doel voor haar die bal hoog bo-oor die dwarsbalk gejaag het, het dit vyf minute voor rustyd 3-0 gemaak.

Dlamini het in die 55ste minuut uitstekend gekeer, maar net daarna die bal aangeslaan. Dit het tot teen die regoppaal gerol vir Lina Magull om af te rond en dit 4-0 te maak.

Suid-Afrika het ’n hele paar keer mooi vorentoe gespeel, stukke beter as in enige van sy eerste twee wedstryde teen Spanje en Japan.

Van Wyk en Kgatlana was aan die einde toe spel losgetorring het ongelukkig om nie welslae te behaal nie.

Die kaptein het in die 72ste minuut met ’n kragtige langafstand-poging losgetrek wat net oor die dwarsbalk geseil het.

Die blitsige Kgatlane sal haarself skop dat sy nie haar tweede WB-doel behaal het nie. Sy het op haar eie weggebreek en net die doelwagter voor haar gehad, maar kon nie afrond nie.

Meer oor:  Frankryk  |  Suid-Afrika  |  Duitsland  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.