Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Moeilike taak wag op Ntseki se opvolger

’n Baie gewigtige taak – om Bafana Bafana vir die eerste keer sedert 2010 weer in ’n Wêreldbeker-toernooi te kry – wag op die opvolger van Molefi Ntseki, wat Woensdag die trekpas as nasionale afrigter gekry het.

Molefi Ntseki Foto: Gallo Images

Suid-Afrika was nog net drie keer in aksie in Wêreldbeker-toernooie – in 1998, 2002 en toe in 2010, net omdat Suid-Afrika daardie jaar die gasheerland was.

Suid-Afrika, 71ste op die wêreldranglys, sak die laaste 20 jaar al hoe verder terug met die een ná die ander afrigter wat telkens die trekpas kry.

Ntseki is die deur gewys deur die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) nadat Suid-Afrika nie vir die Afrikabeker-sokkertoernooi gekwalifiseer het nie.

Bafana Bafana, uitgedun sonder ’n paar van hul buitelandse spelers, het Sondag in Khartoem met 0-2 teen Soedan vasgeval in hul laaste wedstryd ter kwalifisering.

Suid-Afrika kon met ’n gelykop uitslag in die wedstryd gekwalifiseer het vir volgende jaar se Afrika-skouspel in Kameroen.

Die nederlaag het meegebring dat Suid-Afrika derde geëindig het in Groep C, waarin Soedan toe saam met Ghana deurgedring het.

Ntseki (51) het ná die wedstryd gesê hy het gefaal as nasionale afrigter.

“Die span se sukses is ook my sukses, net soos die span se mislukking my mislukking is. Ek voel in dié stadium ek het as nasionale afrigter misluk. Ek weet die ondersteuners wil hê ek moet gepos word. In sokker is jy almal se held as jou span wen en die boef in die verhaal as jou span verloor.”

Dié uitspraak sou nie sy saak om as afrigter te oorleef enige gunste gedoen het nie.

Dit was die vierde keer uit die laaste sewe probeerslae dat Bafana Bafana nie vir die vasteland se skouspel gekwalifiseer het nie.

Die beheerliggaam se uitvoerende hoof, Tebogo Motlanthe, het die aankondiging dat hul paadjie geskei het van dié van Ntseki Woensdag op ’n nuuskonferensie by Safa-huis gemaak.

Hy moes omtrent bontstaan oor die treurige toedrag van sake in Bafana-geledere en die konstante agteruitgang van die nasionale span, wat elke keer net ’n nuwe afrigter kry sonder dat daar enige noemenswaardige verbetering op die veld is.

Ntseki het Stuart Baxter in 2019 vervang met ’n kontrak van vyf jaar.

Hy was vir net nege wedstryde aan die stuur, waarvan die span vier gewen en drie verloor het.

Die naam van die voormalige Bafana-doelskieter Benni McCarthy begin al hoe meer opduik as ’n waardige opvolger, ná sy welslae met AmaZulu.

Suid-Afrika se kwalifiseringswedstryde vir volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi in Katar begin reeds in Junie.

Bafana Bafana bevind hulle in Groep G onder die Afrika-spanne saam met Ghana, Zimbabwe en Ethiopië.

Die span móét die groep wen en sal dit dan verder teen die nege ander groepwenners vir die vyf beskikbare plekke in Katar uitspook.

Dis beslis ’n gewigtige taak. Die vraag is, wie sien kans vir die warm stoel?

Ander bronne: kickoff.com, enca.com, fifa.com

    Meer oor:  Afrikabeker  |  Bafana Bafana  |  Molefi Ntseki  |  Sokker
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.