Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Mourinho is terug; brei Spurs

’n Raps minder as ’n jaar nadat Manchester United hom die trekpas gegee het, is die veelbesproke afrigter José Mourinho terug in Engelse sokker.

Tottenham Hotspur glo José Mourinho is die beste afrigter om dié span ná ’n swak begin tot die seisoen weer op koers te kry. Foto: AP

Dié 56-jarige Portugees is as Tottenham Hotspur se nuwe afrigter aangestel nadat dié Londense klub Dinsdag vir Mauricio Pochettino die deur gewys het. Spurs beleef sover ’n nagmerrie-seisoen en kon net drie van hul eerste 12 Premierliga-wedstryde wen. Hulle beklee tans die 14de plek op die puntelys.

“In José het ons een van die suksesvolste afrigters in sokker,” het Spurs se voorsitter, Daniel Levy, in ’n verklaring op sy klub se webwerf gesê.

“Hy beskik oor geweldig baie ervaring, kan spanne inspireer en is ’n briljante strateeg. Hy het nog by elke klub waar hy afgerig het titels gewen.

“Ons glo hy sal die nodige energie na die kleedkamer bring en die spelers se vertroue in hul eie vermoëns weer herstel,” het Levy Mourinho se lof besing.

“Dis vir my ’n eer om ’n span met sulke passievolle ondersteuners en met so ’n ryk erfenis af te rig,” het Mourinhou gesê.

“Die gehalte van die spelers in die senior groep, asook by die akademie, maak my baie opgewonde. Dis die geleentheid om met dié spelers te kan werk, wat die aanbod vir my baie aantreklik gemaak het.”

Mourinho se kontrak sal tot die einde van die 2022-’23-seisoen geld.

Hoewel Mourinho slegs beperkte sukses by Manchester United behaal het, het hy groot hoogtes bereik toe hy in twee termyne as Chelsea-afrigter drie keer die Engelse Premierliga-titel gewen het.

Die eerste van daardie titels, in die 2005-’06-seisoen, was Chelsea se eerste kroon in Engeland se topliga in 50 jaar.

Mourinho het benewens die Engelse Premierliga ook al ligatitels in Portugal (Porto), Italië (Inter Milan) en Spanje (Real Madrid) verower.

Dan het hy ook die Europese Kampioeneliga aan die stuur van Porto en Inter Milan verower. 

– Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.