Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
’n Broekskeur-sege vir Liverpool
Verligting! Georginio Wijnaldum skree sy emosies uit teenoor sy spanmaat Roberto Firmino nadat hy die enigste doel van Liverpool se broekskeur-sege oor Southampton aangeteken het. Foto: Getty Images

Gefrustreerd, dog tevrede – dit is dalk die beste manier om Jürgen Klopp se gemoedstoestand op te som ná Liverpool se Engelse Premierliga-oorwinning gister oor Sheffield United.

Dit het ’n massiewe breinfloute van die tuisspan, Sheffield, se doelwagter, Dean Henderson, geverg vir Liverpool om met ’n oorwinning van 1-0 hul segetog tot sewe agtereenvolgende wedstryde te verleng.

’n Doelpoging deur Liverpool se Georginio Wijnaldum het in die 70ste minuut deur Henderson, wat die bal maklik kon keer, se bene geglip en in die doelhok beland vir die wendoel. Henderson het daarna ’n spogpoging van die doelkoning Mo Salah gekeer, maar dít het nie gehelp dat Sheffield-ondersteuners hom vergewe nie.

Liverpool is nou gerieflik bo-aan die puntelys met 21 ligapunte ná sewe oorwinnings uit hul eerste sewe wedstryde. Tog het hulle gister laat deurskemer hulle is nie onoorwinlik nie.

Klopp erken hy was gefrustreerd met Liverpool se vertoning.

“Hierdie wedstryde is nie altyd skouspele nie en jy moet hard werk vir die gewenste uitslag,” sê hy.

“Ek was gefrustreerd en teen rustyd het ons daaroor gepraat. Ons het goed begin, maar jy moet dieselfde ding oor en oor kan doen.

“Dit gaan oor liggaamshouding, dit begin by die middelveldspelers, dit is die klein dingetjies.”

Sheffield se Oliver Norwood het Liverpool se doelwagter, Adrian, op ’n keer gedwing om ’n moeilike poging te keer en Norwood se spanmaat Cullum Robinson het ook gedreig.

Maar Liverpool het vasgeklou vir ’n raap-en-skraap-oorwinning.

Manchester City is steeds in die tweede plek op die puntelys.

Hy het voor sy wedstryd gisteraand teen Everton (wat ná druktyd klaargemaak het) 13 ligapunte gehad.

Dit is een meer as Westham, wat met 12 ligapunte in die derde plek is.

Westham het gister met 2-2 teen Bournemouth gelykop gespeel.

Tottenham het binne trefafstand van die voorlopers gebly met ’n oorwinning van 2-1 oor Southampton, ondanks ’n rooikaart aan Serge Aurier in die 31ste minuut.

Aurier is van die veld gestuur nadat hy twee geelkaarte gekry het – die tweede nadat hy sy teenstander Ryan Bertrand teruggehou het.

Harry Kane het nietemin sy span met ’n doel tot ’n oorwinning aangevoer.

Hy het in die 43ste minuut toegeslaan om sy span weer die voortou te laat neem nadat Hugo Lloris, Spurs se doelwagter, ’n doel vir Southampton op ’n skinkbord gegee het.

Lloris het te lank gevat om ’n bal weg te skop en die skop toe boonop só skeefgetrek dat Danny Ings die telling gelyk kon trek. Dit nadat Tanguy Ndombele Spurs in die 24ste minuut laat voorloop het.

Kane het sy span nietemin gehelp om die vierde plek op die puntelys hul eie te maak, met 11 ligapunte.

Chelsea, wat die sesde plek beklee, het Brighton danksy twee doele in die tweede helfte met 2-0 geklop. – Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.