Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
‘Nie rassisties om swart mens te beskryf’
John Barnes, self ’n slagoffer van rassisme in sy speeldae. Foto: Getty Images

Daar is nog ’n kinkel in die rassisme-skandaal wat vandeesweek opslae maak in die roemryke Kampioeneliga nadat die bekende sokkerkommentator John Barnes gesê het daar is niks fout daarmee dat ’n wedstrydbeampte ’n Afrikaan-afrigter as “die swart een” beskryf nie.

The Telegraph berig Barnes, ’n voormalige middelveldspeler vir Liverpool en Engeland, het in die bres getree vir Sebastian Coltescu. Dié Roemeense beampte se beweerde rassisme teenoor Pierre Webo het veroorsaak dat albei spanne ná slegs 13 minute die veld verlaat het in Dinsdagaand se wedstryd tussen Paris St-Germain en Istanbul Basaksehir.

Die kragmeting is Woensdagaand voltooi met albei spanne geklee in “No to Racism”-hemde, en albei spanne het die knie gebuig.

Die drama het begin toe die Webo, wat van Kameroen kom, ’n rooikaart gekry het omdat hy protes aangeteken het teen ’n beslissing. Basaksehir voer aan dat Coltescu in die proses rassisties opgetree het.

Pierre Webo (regs) was vandeesweek na bewering ’n slagoffer van rassisme in ’n Kampioeneliga-wedstryd. Foto: Getty Images

Op TV kon gehoor word hoe Coltescu in Roemeens vir ’n ander wedstrydbeampte sê: “Die swart een daar. Gaan kyk wie hy is. Die swart een daar oorkant. Hy kan nie so optree nie,” het Coltescu gesê toe Webo vurig teen ’n beslissing protesteer.

Die Roemeense term “negru”, oftewel “die swart een”, word herhaaldelik gebruik.

Daar kan dan ook gehoor word hoe Basaksehir se een plaasvervanger, Demba Ba, langs die kantlyn vir die skeidsregter vra: “Het hy ‘Negro’ gesê?”

Daar is boonop gerugte uit Roemenië dat sommige spelers na die wedstrydbeamptes as “gypsies” verwys het.

Barnes, self ’n slagoffer van rassisme in sy speeldae en ’n stoere kampvegter vir gelykheid in die samelewing, sê op Twitter: “Dit is nie rassisties om die oortreder as die swart een te beskryf nie!

“Ons vra mense om ons swart te noem . . . hy ken nie sy naam nie, daar is 6/7 afrigters wat saam staan almal Turke . . . 1 moet afgestuur word, die blaser vra watter een DIE SWART EEN wat anders kan hy sê om die skeidsregter te laat weet?

“Hoekom kan jy nie ’n swart man as ’n swart man beskryf nie?”

Barnes het by sy uitlatings gestaan, al is hy gevra of ’n wit afrigter in soortgelyke terme beskryf sou word.

Sy mening word ondersteun deur Benfica se afrigter, Jorge Jesus, wat storms rondom rassisme as “baie modieus” beskryf.

UEFA, die beheerliggaam vir Europese sokker, sê die voorval word ondersoek.

Webo se rooikaart is opgeskort terwyl die ondersoek afgehandel word. Hy was dus Woensdagaand by toe die wedstryd voltooi is.

Die ganse skeidsregterspan is vervang vir die kragmeting, insluitend Coltescu, wat skynbaar nie weer sulke hoëprofiel-wedstryde sal behartig nie.

Volgens The Telegraph is UEFA bewus van berigte in die Roemeense media dat Coltescu voorheen probeer het om sy eie lewe te neem ná kritiek oor sy vertonings in plaaslike sokker. – Sportredaksie

Meer oor:  Rassisme  |  Uefa  |  Kampioeneliga  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.