Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Nog ’n antiklimaks vir Bafana

As hy nog daar is, sal Stuart Baxter, afrigter van Suid-Afrika se sokkerspan, straks sy voet neersit as Bafana Bafana weer ’n kwalifiserende wedstryd in Durban moet speel.

Die middelveldspeler Dean Furman was die Speler van die Wedstryd. Foto: Gallo Images

Een nee dis nie oor die reën wat Saterdag daar in die Moses Mabidha-stadion uitgesak het in hul wedstryd teen Libië om te kwalifiseer vir die Afrikabeker-toernooi nie.

Dis oor hulle, soos in die Wêreldbeker-kwalifiseringstryd in die hawestad teen die Kaap Verdiese Eilande, wéér nie volpunte kon kry nie teen ’n span wat 101ste op wêreldranglys is.

Baxter het vooraf gebrom omdat hulle weer op seevlak moet gespeel het.

Die Mediterranean Knights het breed geglimlag oor die gelykopuitslag van 0-0 wat hulle saam met Suid-Afrika op vier punte ná twee van die ses wedstryde laat. Hulle is weens ’n beter doelverskil steeds die voorloper in die groep.

Suid-Afrika se Dean Furman, wat as Speler van die Wedstryd aangewys is, het die uitslag gepas as ’n antiklimaks beskryf.

Hy en Baxter was dit ná die tyd eens dat Libië hom goed laat geld het deur baie spelers die heeltyd agter die bal te hê in dié geskiedkundige eerste wedstryd tussen die lande.

Die einste Furman kon Suid-Afrika met ’n tikkie geluk vroeg laat voorloop het. Dié middelveldspeler het ’n aangee onderskep en gesien die besoekers se doelwagter, Mohamed Abdaula, staan ver voor die doelhok. Hy het die doelwagter so byna met ’n lugskop oor sy kop geklop.

Libië kan homself egter ook ongelukkig ag dat hy nie met rustyd voorgeloop het nie.

Anis Saltou het onder meer in die 15de minuut die regoppaal getref ná ’n dwarsaangee.

Bafana Bafana het heelwat benoude oomblikke in die eerste helfte oorleef

Suid-Afrika se doelwagter, Itumeleng Khune, het heelwat meer gesweet as sy eweknie, maar hom goed van sy taak gekwyt.

Die doelskieter Percy Tau se pirouette toe hy een beweging omgeswaai het, het die tuisskare ook ’n slag opgewonde gehad.

So ook was Keagan Dolly se kopskoot van ’n hoekskop af kort ná die hervatting van die tweede helfte, net regs verby.

Saltou was ’n tweede keer ongelukkig om Libië nie te laat voorloop nie. Suid-Afrika se kaptein, Thulani Hlatshwayo, het sy voet net betyds in die pad gekry anders was dit beslis 1-0 vir die Knights.

Die lenige Bradley Grobler, wat net die tweede helfte ingespan is, het hom kort voor die einde in ’n goeie posisie bevind, maar sy kopskoot toe baie wyd verbygejaag.

* Nigerië het die Seychelles in Saterdag se ander Groep E-wedstryd met 3-0 in Stade Linité in Victoria geklop.

Twee van die vier spanne sal vir volgende jaar se toernooi om die Afrika-beker in Kameroen kwalifiseer.

Puntestand ná 2 wedstryde: Libië 4, Suid-Afrika 4, Nigerië 3, Seychelles 0.

Meer oor:  Dean Furman  |  Bafana  |  Sokker  |  Stuart Baxter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.