Die koronavirus slaan steeds sy kloue in by die Spaanse sokkerreus Real Madrid.
Drie dae nadat dié klub se hoofafrigter, Zinedine Zidane, positief getoets is vir die koronavirus, het die Spaanse ligakampioen aangekondig dat sy verdediger Nacho Fernandez ook die koronavirus onder lede het.

Die Real Madrid-verdediger Nacho Fernandez is deur die koronavirus op die kantlyn gedwing. Foto: Getty Images
Dié 31-jarige speler, wat Spanje ook al verteenwoordig het, kon nie gekies word vir die afgelope naweek se oorwinning van 4-1 oor Alaves nie en sal na verwagting ook Saterdag se stryd teen Levante misloop.
Benewens Zidane en Fernandez, is die doelskieter Eden Hazard, middelveldspeler Casemiro en verdediger Eder Militao ook al dié seisoen positief getoets vir die koronavirus.
Real is tans tweede op die La Liga-puntelys, met 40 punte ná 19 wedstryde. Hulle is sewe punte agter Atletico Madrid, wat 47 ná 18 wedstryde het. – Reuters