Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Olé, olé, olé vir José by Tottenham

Nadat die sokkerwêreld verlede week oopbek geskok is om te hoor dat José Mourinho die alom gewilde Mauricio Pochettino as bestuurder van Tottenham Hotspur vervang, het die immer omstrede Portugees ’n goeie begin in sy nuwe pos gehad toe Spurs hul wegwedstryd teen West Ham taamlik maklik met 3-2 gewen het.

José Mourinho (links) en Mauricio Pochettino ná ’n wedstryd tussen Man United en Spurs verlede jaar. Foto’s: Getty

Heung-min Son, Lucas Moura en Harry Kane het die besoekers reeds ná ’n uur feitlik verseker van ’n oorwinning teen ’n triestige West Ham, maar Michail Antonio en Angelo Ogbonna het ’n klein bietjie eer vir die tuisspan gered.

Nuwe besems vee skoon en Spurs het lewendiger gelyk as in maande. Dele Alli het sy beste wedstryd in ’n baie lang ruk gehad; duidelik was Mourinho ’n inspuiting. Na die einde toe het hy oudergewoonte die bus parkeer en met ’n oormag verdedig om die broodnodige ligapunte te verseker.

Hy moet Tottenham, na ’n powere begin, help kwalifiseer vir die Kampioeneliga – die klub het ’n yslike nuwe stadion om af te betaal en makeer dringend nuwe bloed op die veld, maar dis Spurs dié.

Heung-min Son (regs) teken Spurs se eerste doel aan.

Tottenham-ondersteuners het lankal geleer om vir die beste te hoop en die ergste te verwag. Die klub se annale is deurspek van ’n chaos, onderprestering en ’n voorliefde vir selfvernietiging nes alles ’n slag mooi op dreef kom.

Daar is selfs ’n byvoeglike naamwoord vir laasgenoemde verskynsel: “Spurzy”, noem vriend en vyand dit. Verlede week se manewales was hoë-oktaan-Spurzy.

Spurs se grootbaas, Daniel Levy, het al in 2007 vir Mourinho flikkers gegooi. Destyds was Mourinho die groot taktiese vernuwer en sy indrukwekkendste segetogte eintlik reeds agter hom; hy het die versukkelde Spurs met rede as effens benede sy waardigheid geag.

Deesdae tel Spurs weer min of meer onder die groter kanonne, danksy Pochettino se plat-op-die-aarde-deeglikheid, en dis Mourinho se reputasie wat nou veel meer toiings het as 12 jaar gelede. Sedert hy Chelsea destyds in ’n wenmasjien verander het, het baie taktiese water in die see geloop.

Harry Kane vier sy doel teen West Ham.

Eers het Pep Guardiola balbesit tot die eerste en die groot gebod verhef en deesdae is Jürgen Klopp se “rock ‘n’ roll”-sokker die styl om na te strewe. Dié twee brei boonop die toonaangewende spanne in die Premierliga en daar is vrae of Mourinho se normaalweg reaktiewe styl vir Spurs veel veld kan help wen teen Manchester City of Liverpool.

Dit ly min twyfel dat Pochettino se volgende pos groter gaan wees. Die teenoorgestelde geld waarskynlik vir Mourinho.

Dit beteken nie noodwendig dat Pochettino se afdanking ongeregverdig is nie. Dit was wreed, ongevoelig en ’n waarskynlike oorreaksie, maar van sy spelers wou nie meer vir hom vinger trek nie en Levy was hom ook van g’n hulp in die oordragmark nie.

Levy is waarskynlik die grootste dinges in die drinkwater by White Hart Lane. Hy betaal sy spelers minder as wat hulle werd is en weier om hulle te verkoop vir meer as wat hulle werd is. En die gevolg is die dikbek-kleedkamer wat die Argentyn se taak onmoontlik gemaak het.

Pochettino was waarskynlik Spurs se beste bestuurder sedert Bill Nicholson in die vroeë sestigerjare, maar dit help nie jy tjorts teen die donderweer nie.

Hy het met ’n pannekoekplat beursie ’n hele geslag topspelers geweek en ’n tradisionele grapspan in die Kampioeneliga-eindstryd gekry.

Spurs-ondersteuners het net begin droom toe die werklikheid weer vir hulle kil word.

In die 19 jaar dat Levy Tottenham regeer, het tien bestuurders onder hom gedien en die klub het daarvoor te wys.

Sy suinigheid is die grootste rede en Mourinho se Plan A was nog altyd grootskaalse besteding.

Hoe lank dié vennootskap sal hou, is dus ’n ope vraag.

Meer oor:  José Mourinho  |  Spurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.