Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
‘Ondersoek na sokkergeweld kom’
Irvin Khoza / Foto: Gallo Images

Daar was te min veiligheidsbeamptes om die chaos wat Saterdag ná die Nedbankbeker-halfeindstryd in Durban uitgebreek het, te voorkom, erken Irvin Khoza, voorsitter van die Premiersokkerliga (PSL).

Hy het die feit dat daar nie genoeg beamptes was nie aan ’n onvoldoende begroting toegeskryf.

Khoza het in die nadraai van grootskaalse geweld by die Moses Mabhida-stadion ’n volledige ondersoek na die gebeure beloof.

Honderde toeskouers het die speelveld betree en skade aangerig ná die Free State Stars die Kaizer Chiefs met 2-0 verslaan het.

Eiendom van die stadion en uitsaaitoerusting is beskadig in die pandemonium. Verskeie mense is beseer en ’n veiligheidswag het in die hospitaal beland.

Die PSL is uiters geskok oor die geweld wat plaasgevind het. Ek wil dit duidelik stel dat daar nie plek vir geweld in ons stadions en samelewing is nie,
Irvin Khoza

“Die PSL is uiters geskok oor die geweld wat Saterdag daar plaasgevind het. Ek wil dit duidelik stel dat daar nie plek vir geweld in ons stadions en samelewing is nie,” sê Khoza.

Hy het alle belanghebbendes en die uitsaaiers om verskoning gevra vir die skade wat aan hul eiendom aangerig is.

“Dit wat op televisie en koerante uitgebeeld is, is nie goed vir ons nasie nie, plaaslik sowel as in die buiteland.”

Khoza sê hulle sien ’n neiging van toenemende geweld by stadions, veral waar daar goeie ondersteuning is.

“ ’n Sterk boodskap moet uitgestuur word om dié neiging te bekamp. Daar kan nie toegelaat word dat dit voortgaan nie,” sê Khoza.

Hy het in weerwil van gerugte ontken dat iemand dood is in die geweld wat ná die wedstryd uitgebreek het.

Hy sê die betrokke veiligheidsbeampte wat geskop is, soos op sosiale media gesien is, nie ’n vrou is soos berig is nie. Dit was Sabela Maziba (32), wat kopbeserings opgedoen het, en intussen uit die hospitaal ontslaan is, sê Khoza.

SAFA

Die Suid-Afrikaanse Sokkerfederasie (Safa) het ’n beroep op die publiek gedoen om die “sokkerboewe” te identifiseer wat vir die geweld in die stadion verantwoordelik was.

“Hulle moet in hegtenis geneem word en so spoedig moontlik aangekla word. Vir te lank is oortreders wat hulle aan geweld by sokkerwedstryde skuldig maak, nie vir hul dade verantwoordelik gehou nie. Dit moet ophou. Die skuldiges van Saterdag se chaos moet voor die reg gebring word.

“As die beheerliggaam van sokker sal ons samesprekings met die PSL en die owerhede voer om agter die kap van die byl te kom en om vorendag te kom met oplossings wat sal verseker dat so iets nie weer gebeur nie.

“Voorvalle soos hierdie beskadig die beeld van die sport en skep ’n negatiewe persepsie.

“Die veiligheid en beskerming van ondersteuners, spelers, wedstrydbeamptes, die media, diensverskaffers en almal wat by die spel betrokke is, is belangrik en moet gewaarborg word.”

– Sportredaksie, Sport24, Safa

Meer oor:  Irvin Khoza  |  Bloemfontein  |  Johannesburg  |  Safa  |  Kaizer Chiefs  |  Geweld  |  Sokker  |  Psl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.