Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Ondersteuners eis Chelsea-breier se kop

Ondersteuners van Chelsea het teen dié Engelse sokkerklub se afrigter, die Italianer Maurizio Sarri, gedraai nadat hul span Maandagaand met 2 – 0 deur Manchester United uit die FA Cup-kompetisie geboender is.

Sarri is luidkeels deur toeskouers uitgejou, wat moeg is vir sy welbekende taktiek en toenemend gefrustreerd raak met die dramatiese insinking in die Blues se spelpeil.

Jong Chelsea-aanhangers kyk mismoedig toe hoe hul span Maandagaand die spit teen Manchester United afbyt. Foto: Getty Images

Van dié toeskouers by die Stamford Bridge-stadion het tydens die vyfderondestryd teen United begin dreunsing dat Sarri die volgende oggend die trekpas gaan kry. Dít slegs sewe maande nadat hy by die klub aangesluit en Chelsea ’n belowende begin tot die seisoen gehad het.

Ander ondersteuners het kragwoorde gebruik om hul ongelukkigheid met “Sarriball”, ’n verwysing na dié breier se verkose speelstyl, te kenne te gee.

“Ek is bekommerd oor die span se resultate, nie die ondersteuners nie,” het Sarri gesê toe verslaggewers hom ná die nederlaag oor die uitjouery uitgevra het.

“Maar ek het natuurlik begrip vir die ondersteuners se ongelukkigheid.”

Die tekortkominge in Chelsea se spel is nogmaals blootgelê – dié keer deur ’n United-span wat ’n oplewing onder sy waarnemende afrigter, Ole Gunnar Solskjaer, beleef en 11 van sy laaste 13 wedstryde gewen het.

As dit van sekere Chelsea-ondersteuners afhang, het die uurglas reeds vir die afrigter Maurizio Sarri leeggeloop. Foto: Getty Images

Paul Pogba het ’n spreekwoordelike hand in Ander Herrera, sy spanmaat in die middelveld, se doel gehad en die tweede een self aangeteken.

Chelsea het daarteenoor bitter min op die aanval gebied, met United wat Eden Hazard en Gonzalo Higuain deurgaans in toom gehou het.

Chelsea-ondersteuners het voor die nederlaag teen United nog hul wonde gelek nadat Manchester City ’n week vantevore hul span met 6 – 0 in ’n Premierliga-kragmeting verneder het.

Wat Chelsea-aanhangers veral tot kommer stem, is dat Sarri oënskynlik nie met ’n plan B of C kan vorendag kom wanneer die druk op hom en sy span laai nie.

Sarri sê egter sy span kan nog sake regstel en kort net drie of vier seges op ’n streep om weer momentum op te bou.

Chelsea sal Sondag weer met Man City kragte meet, maar dié keer in die eindstryd van die ligabekerkompetisie. – Reuters

Meer oor:  Maurizio Sarri  |  Chelsea  |  Manchester United  |  Fa Cup
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.