Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Pitso erken Barca is op ander vlak

Mamelodi Sundowns se breier, Pitso Mosimane, het toegegee dat die gaping duidelik was tussen sy span en die Spaanse sokkerreus Barcelona in hul Mandela-eeufeeswedstryd.

Bangaly Soumahoro van Mamelodi Sundowns spook om besit met Barcelona se Paulinho in Woensdag se vriendskaplike wedstryd tussen die spanne in die FNB-stadion. Foto: Gallo Images

Barca het met 3-1 geseëvier met doele deur Ousmane Dembele, Luis Suarez en Andre Gomes, terwyl Sibusiso Vilakazi ’n troosdoel vir die Suid-Afrikaanse ligakampioen Woensdagaand in die FNB-stadion aangeteken het.

Dembele het die eerste doel aangeteken nadat hy ’n slordige aangee van Bangaly Soumahoro na Tebogo Langerman onderskep het.

Suarez het ná 19 minute se speeltyd die tweede doel aangeteken nadat Soumahoro weer nie daarin kon slaag om aansluiting te vind nie. Hy het gegly toe hy die bal uit wou skop.

Downs se swak verdediging het hulle weer in die tweede helfte duur te staan gekom toe Inigo Ruiz de Galarreta ’n aangee van Hlompho Kekana bemeester het en Gomes in staat gestel het om dit 3-0 te maak.

Vilakazi het in die 75ste minuut daarin geslaag om die agterstand te laat krimp nadat die tuisspan die Katalane se verdediging uitoorlê het.

“Om dit op te som, ek dink die verskil is die rand en die euro,” sê Mosimane.

“Ja, toe hulle die eerste doel vroeg aanteken, het ons begin sê, ‘hoeveel doele kom?’

“Maar ons het vanaand (Woensdag) die skoolgeld betaal en ek dink julle het dit gesien.

Ons het hulle gedruk, so ons het darem iets reg gedoen. Maar daar is ’n groot verskil, kom ons wees eerlik. Hulle is ’n groot span.

“Ek dink Bangaly het ’n groot fout begaan deur die bal weg te gee en Dembele het ’n doel aangeteken. Ek dink ‘Keke’ (Kekana) het die bal weggegee en die doelskieter (Gomes) het ’n doel aangeteken. En die ander doel, ja, dis Barca, dis die manier hoe Barca speel en dit was die skoolgeld wat ons betaal het.

“Daar is ’n groot verskil in terme van die uitslag en ons moes ons geleenthede gebruik het. Ek dink Khama (Billiat) moes sy geleentheid gebruik het en Langerman syne. Met net die doelwagter om te klop het hulle besluit om die bal uit te gee.

“Maar om dit op te som, die verskil kon duidelik gesien word. Jy kon die gehalte in Barca sien, hoe hulle die bal aangee. Ons het gesukkel om besit te kry.”

Met Barca wat met die omdraaislag ’n rits veranderinge gemaak het, was Sundowns meer mededingend teen die einde van die vriendskaplike wedstryd.

“In die laaste tien minute het ons teruggeveg, ons agterste skakels ingespan en ons kon vorentoe speel,” sê Mosimane.

“Daar was tye dat hulle die bal gesteel het, soos om ’n suigstokkie uit die mond van ’n kind te vat.

“Maar ons het die bal ook by hulle afgeneem en vorentoe beweeg. Ons het hulle gedruk, so ons het darem iets reg gedoen. Maar daar is ’n groot verskil, kom ons wees eerlik. Hulle is ’n groot span.”

Sundowns se aandag verskuif nou na hul CAF Kampioeneliga-groepwedstryd Dinsdag teen Horoya van Guinee in Conakry. – kickoff.com

Meer oor:  Barcelona  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.