Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Prins William ook teen rebelleliga

Die stof het nog lank nie gaan lê oor die omstrede plan van 12 van Europa se rykste sokkerklubs, waaronder ses van Engeland, wat ’n rebellereeks op die been wil bring nie. Boonop het prins William ook nou sy stuiwer in die armbeurs gegooi.

William, wat die president van die Engelse Sokkervereniging (FA) is, het op Twitter sy kommer uitgespreek oor top-spanne soos Manchester United, Barcelona, Real Madrid en Juventus se plan om die “Superliga”, ’n mededinger vir die bestaande Europese Kampioeneliga, te vestig.

Prins William ontmoet Manchester City se spelers toe dié span in 2019 in die eindstryd van die FA Cup op Wembley gespeel het. Foto: Getty Images

“Ons moet nou, meer as ooit tevore, die hele sokkergemeenskap – van top- tot voetsoolvlak – en die kernwaardes van regverdige mededinging beskerm. Ek deel ondersteuners se kommer oor die voorgenome Superliga en die risiko’s wat dit inhou vir die spel waarvoor ons lief is,” het hy getwiet.

Die Britse regering deel ook sy sentiment en het trouens aangedui dat hy alles in sy vermoë sal doen om ’n stokkie voor die beoogde rebelleliga te steek.

Oliver Dowden, die Britse sportminister, het gesê hulle weeg tans hul opsies op en kyk na maniere hoe hulle die ses Engelse spanne (Manchester United, Manchester City, Arsenal, Chelsea, Liverpool en Tottenham Hotspur), wat stigterslede van die voorgenome Superliga is, kan beboet.

Dowden het in die Britse parlement gesê indien die sokkerowerhede nie daarin slaag nie, sal die regering ’n manier soek om die totstandkoming van die Superliga te verhinder.

“Ons heroorweeg alles wat die regering tans doen om dié klubs te ondersteun. Ons kyk na die mededingswette en alle meganismes wat sokker in staat stel om plaas te vind. Ons sal alles doen wat nodig is om ons nasionale spel te beskerm,” het Dowden gesê.

Volgens dié minister is daar ’n rits opsies tot hul beskikking – vanaf belasting-aanslae op die wegbreek-klubs tot planne om spelers van rebelleklubs buite Engeland te verhinder om die land binne te kom.

’n Ander probleem wat vir die rebelleklubs in die vooruitsig gestel word, is hoe hulle groot uitsaaikontrakte vir die Superliga gaan beding.

Jaume Roures, wie se maatskappy (Mediapro) Spaanse La Liga-wedstryde uitsaai en ook die uitsaairegte vir Kampioeneliga-kragmetings in die land besit, het aan Reuters gesê TV-uitsaaiers sal nie hul bestaande kontrakte met Uefa (Europese sokker se beheerliggaam) en nasionale ligas opsê om van die Superliga deel te word nie.

Internasionale TV-uitsaaiers het bindende kontrakte tot 2024 en niemand gaan dit nou opsê nie. Al wat met die huidige planne bereik word, is om ongemaklikheid te veroorsaak. "Dit sal eenvoudig nie slaag nie,” het Roures gesê.

Florentino Perez, president van Real Madrid en voorsitter van die beoogde Superliga in Europa, wat tans vir groot omstredenheid sorg. Foto: Getty Images

Ondanks die wêreldwye kritiek teen die rebelleklubs se plan, wat Sondagaand rugbaar geword het, voer een van die dryfvere agter die projek, Florentino Perez (president van Real Madrid), aan dat dit daarop gemik is “om sokker te red” en omdat “jong mense nie meer in die sport belangstel nie”.

Volgens hom moet sokker groei en tred hou met die tye. “Daar sal altyd mense wees wat verandering teenstaan. Ons doelwit is om sokker op dié kritieke tydstip vir die spel te red,” het Perez in ’n onderhoud op Spaanse TV gesê.

“TV-gehore kwyn en die waarde van uitsaairegte neem af. Ons moes iets doen, of ons almal sal ten gronde gaan.

“Jong mense is nie meer geïnteresseerd in sokker nie. Omdat daar so baie wedstryde van ’n swak gehalte is, hou hulle hulle eerder met dinge op ander platforms besig.”

Volgens hom het die top-klubs die laaste paar seisoene gesamentlik ’n afname van €5 miljard aan inkomste gehad en hy is oortuig daarvan dat ’n nuwe inkomste uit die Superliga in ’n groot mate daarvoor kan vergoed. – Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Superliga  |  Prins William  |  Rebelleliga  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.