Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Rasseherrie oorskadu Engelse sege

Bulgarye se eerste minister, Boiko Borissof, eis dat die president van dié land se sokkervereniging bedank nadat Bulgaarse ondersteuners hulle skuldig gemaak het aan rassistiese en onbeskofte gedrag teenoor swart spelers van Engeland.

Bulgaarse ondersteuners wys Maandagaand obsene tekens en slinger rassistiese beledigings na swart sokkerspelers van Engeland. Foto: AP

Bulgarye en Engeland het mekaar Maandag in Sofia in ’n kwalifiserende wedstryd vir die Euro2020-toernooi gepak, wat die Engelse met 6-0 gewen het.

’n Groep Bulgaarse ondersteuners, geklee in swart, het rassistiese aanmerkings en aapgeluide gemaak en ook verregse saluuttekens gewys.

Rassistiese dreunsang kon gehoor word en Engelse spelers het dit onder hul afrigter, Gareth Southgate, se aandag gebring, wat met die skeidsregter gaan praat het.

Volgens die Europese beheerliggaam, Uefa, se protokol, is die wedstryd in die eerste helfte tydelik gestaak en toeskouers is oor die luidsprekerstelsel gevra om hul rassistiese gedrag te staak.

Gareth Southgate, die Engelse afrigter (agter), praat in die eerste helfte met Iwan Bebek, die skeidsregter, en ander beamptes. Foto: Reuters

Vier minute voor rustyd is spel weer gestaak en die skeidsregter het Engeland gevra of hy die veld wou verlaat.

Die spelers het egter gesê hulle wil voortspeel.

Gedurende rustyd is ’n groep mense van die paviljoene verwyder en Iwelin Popof, die tuisspan se kaptein, het deur ’n heining ’n ernstige pleidooi aan die ondersteuners gerig.

Die wangedrag het egter voortgeduur. Daar is onder meer na Tyrone Mings, Marcus Rashford en Raheem Sterling as “ape” verwys.

Die wedstryd is reeds voor minder toeskouers gespeel, omdat Uefa die Bulgaarse vereniging vroeër versoek het om ’n gedeelte van die stadion af te sper. Tuisondersteuners is reeds vroeër vanjaar skuldig bevind aan rassistiese gedrag.

Gareth Southgate gee Marcus Rashford ’n woordjie van bemoediging. Foto: Reuters

Greg Clarke, voorsitter van die Engelse Sokkervereniging, sê dit was een van die “ontstellendste en skokkendste aande tot nog toe in sokker”.

“Dit is onaanvaarbare gedrag vir Bulgarye, wat een van die verdraagsaamste lande is. Dit is onaanvaarbaar dat mense van verskillende etnisiteite en gelowe, wat in vrede saamleef, verbind word met rassisme en xenofobie,” het Bulgarye se eerste minister Dinsdag gesê.

Krasen Kralef, Bulgarye se minister van sport, sê die regering sal alle bande, asook finansiële steun, aan die sokkervereniging onttrek.

Southgate het gesê die Uefa-protokol het “ ’n groot stelling” gemaak.

Die laaste stap in die protokol is dat spelers en afrigters van die veld stap.

Sommige Bulgaarse ondersteuners was in swart geklee en party het hul gesigte probeer bedek. Foto: Reuters
Van die Bulgaarse ondersteuners het truie gedra met die woorde “geen respek”. Foto: Reuters

“Daar was nog nooit so ’n situasie in internasionale sokker nie,” sê Southgate.

“My spelers het iets deurgemaak wat hulle nie moes ondervind nie, maar het met hul spel geantwoord en met glimlagte van die veld gestap.”

Die Bulgaarse vereniging kon nie Dinsdag vir kommentaar bereik word nie.

Jordan Lechkof, visepresident, het egter Maandagaand die gebeure probeer onderspeel en gesê dit is “teleurstellend” om op rassisme te fokus, en nie sokker nie.

Krasimir Balakof, die afrigter, het die Engelse toeskouers geblameer, wat glo disrespekvol was teenoor tuisondersteuners.

Uefa gaan die gebeure ondersoek en ook na beeldmateriaal kyk en verklarings by ooggetuies kry. – Reuters

Meer oor:  Bulgarye  |  Xenofobie  |  Rassisme  |  Boiko Borissof  |  Engeland  |  Sokker  |  Euro2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.