Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Rassisme ook in Nederland in kollig

Rassistiese gedrag deur toeskouers by sokkerwedstryde, wat lank reeds ’n probleem in Oos-Europa en ook Italië is, het nou ook in Nederland kop uitgesteek.

Die doelskieter Ahmad Mendes Moreira (links) Sondag in aksie in FC Den Bosch se stryd teen Excelsior Rotterdam. Foto: Getty Images

Dié land se vervolgingsgesag gaan amptelik ondersoek instel na rassistiese voorvalle wat daartoe gelei het dat ’n wedstryd in Nederland se Eerste Liga Sondag tydelik gestaak moes word.

Die skeidsregter van die kragmeting tussen FC Den Bosch en Excelsior Rotterdam het die spel ná ’n halfuur onderbreek en die spelers opdrag gegee om die veld te verlaat nadat die Excelsior-doelskieter Ahmad Mendes Moreira die slagoffer van rassistiese beledigings deur van die Den Bosch-toeskouers was.

Volgens hom het die tuisskare hom van die afskop af ’n “neger en katoenplukker” genoem.

“Ek is geweldig kwaad en teleurgesteld dat dié tipe dinge nog gebeur,” het Mendes Moreira gesê.

Nederlandse staatsaanklaers sal beeldmateriaal van die wedstryd bestudeer en saam met die polisie werk om vas te stel wat presies gebeur het en wie betrokke was.

Die spel is weer ná ’n onderbreking van tien minute hervat, maar Nederland se sokkervereniging, die KNVB, sê hy sal ook die saak ondersoek en moontlike strawwe aan Den Bosch en sy toeskouers oplê. Die telling was uiteindelik 3-3.

Dié episode is die jongste in ’n rits soortgelyke rassistiese voorvalle in Europese sokker.

Vroeër vandeesmaand het die Italiaanse doelskieter Mario Balotelli in ’n wedstryd gedreig om die veld te verlaat nadat hy ook aan die ontvangkant van rassistiese beledigings en krete was.

In die Oekraïne is die Shakhtar Donetsk-doelskieter Taison Freda ’n rooikaart gewys nadat hy uit frustrasie oor herhaaldelike rassistiese beledigings die toeskouers ’n middelvinger gewys het.

’n Wedstryd tussen Engeland en Bulgarye in Sofia is ook versuur deur voorvalle waarin van die tuisondersteuners swart Engelse spelers met Nazi-salute en aapgeluide getreiter het.

– Reuters

Meer oor:  Rassisme  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.