Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Rassisme: Spelers boikot sosiale media

’n Groep van die Engelse Premierliga se voorste spelers skaar hulle agter Engeland se Beroepsokkerspelersvereniging (PFA) se veldtog om sosiale media vir 24 uur te boikot.

’n Pamflet wat toeskouers waarsku oor rassisme. Foto: Getty Images

Die boikot, wat daarop gemik is om standpunt teen rassisme in te neem, het Vrydag om 08:00 GMT (10:00 Suid-Afrikaanse tyd) begin.

Die PFA sê in ’n verklaring die veldtog beoog om druk op sosialemediamaatskappye en die sport se beheerliggame te plaas om strenger op te tree in reaksie op rassisme.

Danny Rose, verdediger van Tottenham Hotspur en Engeland, sê hy wil nie sien hoe toekomstige spelers moet deurmaak wat hy in sy loopbaan beleef het nie.

“Ons as ’n groep is eenvoudig nie meer bereid om toe te kyk terwyl te min gedoen word deur sokkerowerhede en sosialemediamaatskappye om spelers teen hierdie vieslike mishandeling te beskerm nie,” sê Rose.

Die Manchester United-verdediger Chris Smalling steun ook die veldtog, slegs dae nadat sy spanmaat Ashley Young ’n slagoffer van rassisme op Twitter was toe sy span deur Barcelona uit die Kampioeneliga geboender is.

“Ek het mettertyd in my loopbaan ’n dik vel teen verbale mishandeling ontwikkel en dit regverdig as ‘deel van die spel’, maar die tyd is ryp vir Twitter, Instagram en Facebook om hul kanale te begin reguleer,” sê Smalling.

Troy Deeney, Watford se kaptein, wat kommentaar op sy Instagram-profiel afgeskakel het nadat hy vroeër vandeesmaand ’n slagoffer was, sê: “Vrydag stuur ons die boodskap dat enigiemand wat spelers beledig en mishandel – of enigiemand anders – vanuit die pawiljoen of aanlyn, nie in sokker geduld sal word nie.

“Die boikot is net ’n klein stap, maar die spelers praat met een stem teen rassisme.”

Die PFA sê die boikot is die eerste stap in ’n groter veldtog om rassisme in sokker se nek om te draai.

– Reuters

Meer oor:  Rassisme  |  Engelse Premierliga  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.