Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Maradona halflyf uit SA kombi!

Daar is min mense wat aandag só geniet het soos wyle Diego Maradona.

Daarvan kan ’n voormalige Suid-Afrikaanse toergids getuig.

Johan Stegmann en Maradona in 2010 saam in Pretoria.

Johan Stegmann (72) moes in 2010 kophou toe hy die Argentynse sokkerlegende, wat Woensdag oorlede is, rondgery het.

“Dit was daar in 2010 toe die maatskappy waarvoor ek toe gewerk het, gehuur is om Maradona rond te ry. Hy was toe die Argentynse span se afrigter en het saam met ’n paar kollegas gekom om dinge bietjie uit te kyk voor die Wêreldbeker-toernooi wat daardie jaar in ons land gehou is,” onthou Stegmann, wat deesdae in Somerset-Wes woon.

Hy het Maradona-hulle “iewers in Januarie” by die O.R. Tambo internasionale lughawe opgelaai.

“Dis toe dat ek vir die eerste keer paparazzi beleef het. Die kombi is deur fotograwe omsingel. Ek kon nie by die stuurwiel uitkom nie,” vertel Stegmann.

Toe ’n polisieman hom uiteindelik in die voertuig kry, het hy voet neergesit Pretoria toe. Oral waar hy gery het, het verkeerspolisie die “pad skoongemaak” en hy hoef nie eens vir verkeersligte te gestop het nie.

Maradona-hulle het by die Sheraton-hotel in die hoofstad gebly.

Ek kon sien hy (Maradona) hou van die aandag, toe druk ek maar soms die toeter, dan kyk die mense.
Johan Stegmann

“Ek het maar elke oggend vroeg daar opgedaag en dan gewag tot hulle my nodig kry. Ek dink nie Maradona was juis lief daarvoor om vroeg op te staan nie, want ons het meestal in die middag rondgery,” sê Stegmann.

Waar hulle ook al gery het, het mense vir Maradona gewaai en geskree.

“Ek kon sien hy (Maradona) hou van die aandag, toe druk ek maar soms die toeter, dan kyk die mense. Dan duik hy omtrent halflyf by die venster uit soos hy vir die mense waai,” vertel Stegmann laggend.

By die FNB-stadion neffens Soweto het Maradona almal vermaak deur allerhande toertjies met ’n sokkerbal te doen.

“Hy het graag skole besoek en sokkerballe uitgedeel en hand geskud met almal,” sê Stegmann.

Teenoor Stegmann was Maradona minder vriendelik. Dalk net omdat sy Engels nie baie goed was nie.

“Of dalk was dit omdat ek hom gevra het om nie in die kombi te rook nie. Nie dat hy hom daaraan gesteur het nie. Niemand het vir Maradona vertel wat om te doen nie,” sê Stegmann.

• Maradona is Donderdag in ’n privaat seremonie langs sy ouers in ’n begraafplaas aan die buitewyke van Buenos Aires ter ruste gelê.

Meer oor:  Argentinië  |  Suid-Afrika  |  Diego Maradona  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.