Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Ronaldo huldig Pelé nadat hy sy rekord troef

Die Portugese sokkerheld Cristiano Ronaldo het aan Pelé hulde gebring nadat hy dié Brasiliaanse legende se rekord vir die meeste doele in amptelike wedstryde Sondagaand oortref het.

Cristiano Ronaldo vier die eerste van sy drie doele wat hy Sondagaand vir Juventus teen Cagliari aangeteken het. Foto: Getty Images

Ronaldo, wat vir Juventus speel, het dié mylpaal met ’n driekuns aan doele in ’n Serie A-wedstryd teen Cagliari behaal.

Aangesien sokker se wêreldbeheerliggaam, Fifa, nie ’n amptelike rekord van die grootste doelevrate van alle tye hou nie, word daar al lank hewig debat gevoer oor wie met die wêreldrekord spog.

Verskeie publikasies het vroeër reeds, toe Ronaldo sy 760ste doel aangeteken het, berig dat hy nou die wêreldrekordhouer is aangesien hy toe die rekord oortref het van Josef Bican, wat vir Oostenryk en die destydse Tsjeggo-Slowakye gespeel het.

Die Tsjeggiese Republiek se sokkervereniging het egter in Januarie daarop aanspraak gemaak dat Bican inderwaarheid 821 doele aangeteken het in sy loopbaan, wat van 1931 tot 1955 gestrek het.

Ronaldo het egter Sondag dié “rekord” geïgnoreer en daarop aanspraak gemaak dat hy met sy 770 doele nou die wêreld se grootste doelevraat is. Voor die stryd teen Cagliari was hy saam met Pelé op 767.

“Ek sal vir ewig onvoorwaardelike bewondering vir mnr. Edson Arantes do Nascimento (Pelé) hê. Ek het soveel respek vir die sokker wat in die middel van die 20ste eeu gespeel is dat ek die nege doele wat hy aangeteken het vir São Paulo se staatspan, asook sy enkele doel vir die Brasiliaanse weermag se sokkerspan, as amptelike doele beskou, wat hom dus ’n totaal van 767 gegee het.

“Noudat ek die 770ste doel in my beroepsloopbaan behaal het, wil ek eerstens hulde aan Pelé bring. Geen speler ter wêreld het nie in hul grootwordjare stories van sy doele en prestasies gehoor nie. Ek is geen uitsondering nie.

“En om daardie rede is ek met verheug dat ek Pelé se rekord verbeter het en nou boaan die lys pryk. As ’n kind in Madeira sou ek nooit oor so iets kon droom nie.”

Die 80-jarige Pelé het op sy Instagram-blad gesê dat hy in alle wedstryde in sy loopbaan 1 283 doele aangeteken het. Baie daarvan was egter in amateur-wedstryde en in nie-amptelike vriendskaplike kragmetings.

Hoe dit ook al sy, Pelé het ook Sondag lof vir Ronaldo gehad.

“Die lewe is ’n solovlug. Almal het hul eie reistog en wat ’n pragtige reistog het jy nie. Ek bewonder jou baie en is mal daaroor om jou te sien speel. Dít is beslis nie ’n geheim nie,” het die Brasiliaan op Instagram geskryf.

“Baie geluk dat jy my rekord in amptelike wedstryde oortref het. Ek is net spyt dat ek jou nie vandag ’n drukkie kon gee nie.” – Reuters

Meer oor:  Christiano Ronaldo  |  Serie A
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.