Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
‘Rowwe’ Batchelor (49) se sagte kant

Daar was ’n sagte kant aan die oudsokkerspeler Marc Batchelor waarvan min mense geweet het.

So sê André Arendse, voormalige doelwagter van Bafana Bafana, nadat dit bekend geword het dat Batchelor naby sy huis vermoor is. Twee mans op ’n motorfiets het na bewering op hom losgebrand toe hy op pad na sy huis in Olivedale, naby Fourways, was.

Marc Batchelor in aksie vir Mamelodi Sundowns. Foto: Gallo Images

Arendse sê die 49-jarige Batchelor, ’n doelskieter in sy speeldae wat onder meer vir Orlando Pirates, Mamelodi Sundowns en Kaizer Chiefs diens gedoen het, se heengaan is tragies.

“Baie mense het hom as ’n vriend beskou en ons was albei lief vir sokker. Hy was passievol en het gespeel om te wen.

“Hy was altyd die eerste een wat sy hand opgesteek het wanneer daar projekte in die gemeenskap gedoen is. Almal het gedink hy was ’n rowwe en kwaai kalant, wat boonop knorrig was.

“Wanneer hy egter met kinders in die gemeenskappe gewerk het, het dit my in trane gehad. Hy was sag met hulle. Dit is hoe ek hom sal onthou,” sê Arendse, wat tans die doelwagter-afrigter van die nasionale span is.

Hy vertel dat hy en Batchelor meestal teen mekaar gespeel het en daar was altyd “kwaai mededinging”.

“Elke keer as daar ’n hoekskop was, sou hy by die doelhok kom staan en met sy arms en elmboë omtrent fisiek raak. Dit het egter altyd in ’n goeie gees geskied,” sê Arendse.

SuperSport.com berig dat Batchelor met die unieke prestasie gespog het dat hy vir albei die twee groot Soweto-klubs (Kaizer Chiefs en Orlando Pirates) doele in dié twee spanne se jaarlikse derbystryd aangeteken het.

Orlando Pirates het op hul webtuiste hulde aan Batchelor gebring, wat “met sy kopskote in ’n liga van sy eie was”.

Daar was ’n sagte kant aan Marc Batchelor (foto), waarvan min mense bewus was, vertel André Arendse, voormalige doelwagter van die Suid-Afrikaanse sokkerspan. Foto: Gallo Images

“Nie baie spelers het die unieke voorreg gehad om soos Marc Batchelor vir al Suid-Afrika se voorste spanne te speel nie.

“Nie net het dié fris doelskieter vir die Buccaneers (Pirates) gespeel nie, maar hy het ook in die kleure van Wits, Kaizer Chiefs, Mamelodi Sundowns en Moroka Swallows diens gedoen in ’n loopbaan wat langer as ’n dekade gestrek het.”

Ook Kaizer Motaung, stigter en besturende direkteur van Kaizer Chiefs, het sy meegevoel met Batchelor se dood op dié klub se webtuiste uitgespreek.

“Ek is geskok om te verneem van die heengaan van Marc Batchelor, voormalige speler van Kaizer Chiefs. Ek wil graag my innige meegevoel met sy bedroefde familie, vriende en die sokkergemeenskap betuig. Mag sy siel in ewige vrede rus.”

Hoewel Batchelor op klubvlak uitgeblink het, het hy nooit vir Bafana Bafana gespeel nie.

Hy het ná sy uittrede in die 2002-’03-seisoen gereeld as sokker-ontleder vir SuperSport gewerk.

Meer oor:  Oorlede  |  Marc Batchelor  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.