Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
‘Waar is rolmodelle vir swart breiers?’

Benni McCarthy sê Suid-Afrikaanse sokkerspelers kort ambisie, iets wat in hul vertonings weerspieël word.

Hy betreur ook die gebrek aan geleenthede vir swart afrigters in Europa.

Waar is Suid-Afrikaanse sokkerspelers se ambisie, vra Benni McCarthy. Foto: Getty Images

Bafana Bafana kon sedert 2002 nie vir die Wêreldbekertoernooi kwalifiseer nie en die span het agt jaar later die eerste gasheer geword om in die groepfase van dié skouspel uitgeboender te word.

Boonop is Suid-Afrika se enigste sukses op die vasteland sy enkele Afrikanasiesbeker-titel in 1996.

McCarthy (43), wat die span twee jaar later gelei het na ’n plek in die eindstryd in Burkina Faso, meen die huidige groep spelers is eenvoudig nie honger genoeg nie.

“Ek dink nie ons Suid-Afrikaanse spelers het daardie honger, begeerte en ambisie om teen die beste spelers in die wêreld te speel nie,” sê die voormalige doelskieter in ’n onderhoud met BBCSport.

“Ek dink ons spelers is tevrede om eenvoudig in Suid-Afrika te bly, tevrede om te presteer net op een kontinent, nie gepla om hul vlerke te sprei of na Europa te gaan en daar te sukkel nie.

“Jy sukkel as jy na Europa toe kom, maar jy sal die vrugte pluk, want sodra jy na Afrika terugkeer, troon jy uit omdat jy in Europa teen die beste spelers in die wêreld meegeding het.”

McCarthy het 32 doele vir Bafana Bafana aangeteken. Foto: Getty Images

McCarthy, wat in 2004 die Kampioeneliga-titel saam met die Portugese klub Porto verower het, verwys na SA spelers wat gedurende sy loopbaan rondom Europa gespeel het.

“Dít het my generasie gehad – kyk, ek het vir Ajax en Porto gespeel, Quintin Fortune was by Manchester United, Steven Pienaar by Ajax en later Everton, Shaun Bartlett by Charlton, Lucas Radebe by Leeds, Aaron Makoena by Blackburn Rovers,” sê hy.

“Ons het so baie spelers gehad wat op die hoogste vlak meegeding het.

“Moet my nie verkeerd verstaan nie, dalk was ons nie die beste of belangrikste spelers by ons klubs nie. Maar omdat ons geleer het, wanneer ons ook al huis toe gekeer het, het ons dit toegepas om Bafana Bafana te verbeter.

“Deesdae is byna almal van hulle gemaklik om net by die huis te bly en selfs die paar wat die sprong neem, is nie voorperde in hulle span nie. Ons skort goeie karakters.”

McCarthy woon tans in Skotland waar sy vrou werk nadat hy in 2019 sy pos as hoofafrigter van Cape Town City kwyt is.

Hy sou graag weer na afrigting wou terugkeer en het in Februarie gesê hy wil tyd saam met Tottenham Hotspur deurbring sodat hy by sy voormalige Porto-breier, José Mourinho, kan leer. Maar hy voel die feit dat hy swart is, tel teen hom om ’n pos in Europa te kry.

“Dit is moeilik in Europa want as jy my vra het ons letterlik geen swart afrigters nie, behalwe miskien Chris Hughton by Nottingham Forest en dan is daar Darren Moore, by Doncaster Rovers,” sê hy.

“Ek glo die rede is ’n tekort aan geleenthede. Kyk na die geskiedenis en sien hoeveel swart afrigters is in die verlede geleenthede gegun.

“Kyk na ’n speler soos Mason Mount, as hy eendag sy stewels bêre is sy paadjie uitgestippel, hy het iemand soos Frank Lampard (Chelsea-breier) as rolmodel.

McCarthy woon tans in Skotland saam met sy vrou. Foto: Getty Images

“Hoeveel swart rolmodelle is daar vir ons? Daar is jou antwoord.

“Ek was mal oor Andy Cole toe ek jonk was en wou soos hy wees, my speelstyl rondom syne bou. Hy was my rolmodel en ek dink ek het goed gevaar.

“Maar toe dit by afrigting kom was daar niemand na wie ek kon opkyk nie, so ek moes ’n rolprent kyk (Remember the Titans) waar Denzel Washington die rol vertolk van ’n Amerikaanse voetbalbreier. Dit is wat my geïnspireer het, so sien jy, waar is die swart afrigters as rolmodelle?”

McCarthy hou die rekord as Suid-Afrika se voorste internasionale doelevraat met 32 doele vir Bafana Bafana. Hy wil graag in die toekoms die nasionale span afrig.

“Die Bafana Bafana-pos is my grootste droom, maar vir tyd en wyl is ek tevrede om op enige moontlike manier ’n bydrae aan die sport te lewer,” sê hy.

– Sportredaksie

Meer oor:  Benni Mccarthy  |  Bafana Bafana  |  Europa  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.