Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) het die Premiersokkerliga (PSL) versoek om sy wedstrydbepalings te wysig, sodat die nasionale span meer tyd het om voor te berei vir hul belangrike Afrikabeker-kwalifiseringswedstryd in Maart teen Libië.

Stuart Baxter. Foto: Gallo Images
Bafana Bafana speel die naweek van 22 tot 24 Maart (die presiese datum moet nog bevestig word) teen Libië in ’n wedstryd waarin hy minstens moet gelykop speel om ’n plek te bespreek vir die toernooi wat vanjaar in Egipte gehou word.
Russell Paul, Safa se waarnemende uitvoerende hoof, het bevestig dat hulle die PSL gevra het om hul program te wysig en het aangedui dat die versoek aandag geniet.
“Ons is dankbaar dat die NSL (wat die PSL en Nasionale Eerste Liga inkorporeer), die raad en die klubs begrip het vir ons versoek.
“Hierdie stap is ’n aanduiding van hul onwrikbare steun aan Safa en Bafana Bafana op so ’n belangrike tydstip, wanneer die nasionale span vir hul belangrikste wedstryd nóg vanjaar voorberei.
Stuart Baxter, Bafana Bafana se breier, wat deel van die gesprekke was, het ook sy tevredenheid uitgespreek dat die twee organisasies (Safa en PSL) saamwerk tot voordeel van Bafana.
“Toe ek begin het as nasionale afrigter, het ek altyd die belangrikheid van samewerking tussen die belanghebbendes bepleit. Hierdie is ’n bewys dat ons wel kan doen wat die beste vir die nasie is.
“Met al hul beplanning reeds gedoen, weet ons dit was moeilik vir die PSL en die klubs om gehoor te gee aan ons versoek. Ons is hulle ewig dankbaar vir die gebaar en dit beteken vir ons baie.
“Nou kan ons fokus op die uitdaging wat voorlê, om te kwalifiseer vir die Afrikabeker-toernooi in Egipte.
“Ons is vol vertroue dat die span goed sal vaar met die nasie wat bankvas agter ons staan,” sê Baxter.