
Die tweejarige Alexis Olympia is saam met onder andere haar ma, Serena Williams, en pa, Alexis Ohanian, mede-eienaars van ’n nuwe vrouesokkerspan in Los Angeles. Foto: Getty Images
Die Amerikaanse tennis-ikoon Serena Williams is nou ook ’n sokkerbaas.
Williams is deel van ’n sterbelaaide groep eienaars van ’n nuwe vrouesokkerspan in Los Angeles.

Die Hollywood-aktrise Eva Longoria. Foto: Getty Images
Sy het kragte saamgesnoer met die Hollywood-sterre Natalie Portman, Jessica Chastain, Jennifer Garner en Eva Longoria om Angel City te vorm –’n tydelike naam vir dié span.
Williams se man, Alexis Ohanian, en hul twee jaar oue dogter, Alexis Olympia, is ook deel van die konsortium.
Angel City, die 11de franchise in die nasionale vroueliga, sal egter eers in die 2022-seisoen uitdraf.
Ohanian sê hy is trots om deel van ’n “wonderlike groep te wees om ’n beroepspan in Los Angeles te vestig”.
“Eerstens is ek ’n aanhanger van die spel, maar ook omdat ek meen dat die sport reuse-potensiaal het wat te lank misken is.
“As iemand wat graag saam met my dogter ’n sokkerbal rondskop, wil ek hê sy moet aan die voorpunt van dié revolusie wees.
“Ek belê persoonlik hierin namens my gesin, want dit is vir my en my vrou belangrik om meer geleenthede in vrouesport te skep. Ons wil saam ’n beter toekoms vir ons dogter skep,” sê Ohanian. – TeamTalk