
Manchester United se Fred loop deur onder Man City-toeskouers in die Premierliga. Foto: Getty Images
Engelse klubs het ooreengekom om skorsings vir toeskouers wat spelers beledig en afknou uit te brei na alle stadions in die Premierliga.
Daar was hierdie seisoen verskeie voorvalle waar Premierliga-sterre deurgeloop het onder rassisme vanuit die paviljoene.
BBCSport berig die Engelse Beroepspelersvereniging (PFA) het ’n beroep op die Britse regering gedoen om ’n kommissie van ondersoek te begin, terwyl die PFA se voorsitter, Gordon Taylor, daarop aandring dat skuldiges tronkstraf ontvang.
Volgens ’n verklaring wat uitgereik is ná Donderdag se vergadering van die Premierliga se aandeelhouers is alle klubs “verenig teen enige vorm van gewelddadige, dreigende en beledigende gedrag”.
Die verklaring sê verder: “Die 20 klubs het in die nadraai van onlangse voorvalle hulle daartoe verbind dat enigiemand wat deur hul klub vir diskriminerende, neerhalende of gewelddadige optrede geskors is, gevolglik deur almal in die liga geskors word.
“Onaanvaarbare gedrag teenoor spelers, aanhangers, personeel of skeidsregters sal nie deur die Premierliga of sy klubs geduld word nie.”
Bournemouth het vroeër vandeesweek ’n 17-jarige aanhanger lewenslank geskors nadat hy skuld beken het op ’n klag dat hy rassistiese uitlatings gemaak het in ’n wedstryd teen Tottenham verlede jaar.
Die Britse polisie sê die tiener, wie se naam weerhou word, se saak is Dinsdag in die hof in Londen afgehandel.
– Sportredaksie