Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Sokker se ‘Doodswedstryd’ toe net ’n mite

’n Storie uit die Tweede Wêreldoorlog lui as volg – Adolf Hitler het ’n swembyeenkoms aangebied en hy deel die spanne toe as volg op: “Die Duitsers swem teen die Franse, die Hongare teen die Bulgare en die Jode teen die haaie.”

Dié grillerige storie klink natuurlik meer na ’n baie siek grap, maar dat die Nazi’s en hul leier gedurende die Tweede Wêreldoorlog baie vreesaanjaende dinge gedoen het, is ’n feit.

Adolf Hitler en die Nazi-party het die wêreld gedurende die Tweede Wêreldoorlog laat bewe, maar daar was glo nie iets soos ’n “Doodswedstryd” nie. Foto: Getty Images

Só het die storie van die sogenaamde “Doodswedstryd” tussen die sokkerspanne van Dynamo Kiev van die Oekraïne en ’n Nazi SS-span baie mense vir jare erg ontsteld gehad.

Volgens dié storie het Dynamo Kiev die Nazi-span ’n pak slae gegee, waarná die Duitse Gestapo die Kiev-spelers summier teen ’n muur laat staan en doodgeskiet het.

In ’n nuwe boek deur Kevin Moore, What You Think You Know About Football Is Wrong, word dié storie egter nou as twak ontbloot.

Moore was vir meer as 20 jaar die stigter-direkteur van die nasionale sokkermuseum in Manchester, Engeland.

Hy dien ook op die uitvoerende raad van die wêreld se voorste akademiese sokkerjoernaal, Soccer and Society.

Volgens Moore het ’n Oekraïnse geskiedkundige al ’n klompie jaar gelede die storie van die Doodswedstryd as mite ontbloot.

Gedurende die Duitsers se besetting van die Oekraïne het Duitse klubs gereeld teen die Oekraïnse spanne verloor.

Duitse en Oekraïnse sokkerspelers poseer vriendelik vir foto’s ná die sogenaamde Doodswedstryd. Foto: Euronews.com

Daar is glo 111 sulke wedstryde gespeel, waarvan die Oekraïnse spanne 60 gewen en 36 verloor het. Vyftien wedstryde het glo gelykop geëindig.

Kiev se stadspan, FC Start, het daardie tyd bestaan uit voormalige beroepspelers van Dynamo Kiev en Lokomotiv Kiev, wat vir ’n broodfabriek gewerk het.

Gedurende Junie en Julie van 1942 het FC Start sewe wedstryde gespeel. Daar was twee teen Oekraïnse spanne, drie teen Hongaarse spanne en een teen ’n Duitse treinspoorwerkerspan.

FC Start het al hierdie wedstryde gewen.

In Augustus 1942 het FC Start teen ’n Duitse span gespeel en met 5-1 gewen.

Drie dae later het die twee spanne weer kragte gemeet. Dié keer is die Duitse span glo versterk (nie met SS-lede nie), maar FC Start was met 5-3 baas.

Dis hierdie wedstryd wat later as die Doodswedstryd bekend geword het, maar foto’s wat ná die kragmeting geneem is, wys al die spelers in ontspanne luim.

Kevin Moore, die skrywer van die boek What You Think You Know About Football Is Wrong. Foto: Getty Images

Die manne van FC Start is nie voor ’n vuurpeloton teen ’n muur laat staan nie.

Maar tien dae later het FC Start teen ’n ander Duitse span gespeel en met 8-0 gewen.

Die afrigter van daardie Duitse span was glo so ontsteld deur die vernedering, dat hy aan die Gestapo (die Duitse geheime staatspolisie) vertel het dat van FC Start se spelers vir die weerstandsbeweging werk.

Die Gestapo het toe agt van FC Start se spelers in hegtenis geneem en hulle na ’n konsentrasiekamp gestuur.

Drie van die spelers is ses maande later tot die dood veroordeel, maar dit het niks met sokker te doen gehad nie.

Ná die oorlog, toe die Sowjetunie beheer van die Oekraïne oorgeneem het, is van die oorlewende spelers van die FC Start-span gestraf omdat hulle glo té vriendelik met die Duitsers was!

Nou maar waar kom die storie van die Doodswedstryd dan vandaan?

Volgens Moore was dit juis die Sowjette wat in Augustus 1946 dit as deel van hul propaganda in die koerant Stalinskoye plemya opgedis het.

Daar het selfs twee boeke oor die “gebeure” gevolg en dit het in 1962 tot ’n rolprent The Third Time gelei.

Die Sowjet-unie het sover gegaan as om in 1965 vier lede van die FC Start-span postuum met medaljes vir dapperheid te vereer.

Dis is maar net een van die vele mites waaroor Moore in sy interessante boek skryf.

Ander hoofstukke in sy boek wat kan aandag trek is: Wembley is nie ’n wêreldklas-stadion nie en was ook nog nooit een nie; Sokker is nie iets nuuts in Indië nie en het inderdaad ’n groter tradisie as krieket en Die Engelse het nie sokker aan Brasilië bekend gestel nie, dit was die Duitsers.

Meer oor:  Dynamo Kiev  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.